Juan keer terug vir Cheetahs
2010-04-19 08:55
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein - Die Cheetahs se teleurstellende Super14-rugbytoer het Saterdag teen die Crusaders voortgeduur.
Dié Suid-Afrikaanse span is boonop in sy nederlaag van 6-45 teen die Crusaders in Christchurch in die skrums vermorsel.
Verder het die beseringspook die Cheetahs weer ’n paar houe toegedien.
Volgens Naka Drotské, die breier, is Waltie Vermeulen (slot) ná ’n enkelbesering op pad huis toe en word hy deur Juan Smith (flank) vervang.
Dié Springbok moes hom weens die afsterwe van sy pa, wie se begrafnis verlede week gehou is, aan die toer onttrek, maar moet nou noodgedwonge weer gaan help.
Smith kon slegs terugkeer indien daar ’n besering sou wees nadat Philip van der Walt (flank) hom op toer vervang het.
Boonop sal Riaan Viljoen (losskakel, heupbesering), Davon Raubenheimer (agtsteman, skouerbesering) en Adriaan Strauss (haker, enkelbesering) almal later vandeesweek hul fiksheid moet bewys voordat die span die Chiefs pak.
Die Cheetahs was teen die Crusaders van meet af aan onder druk in die skrums en die tuisspan kon as ’t ware kies wat hy met die besoekers in dié afdeling wou doen.
Die oorstootdrie wat die Cheetahs kort voor rustyd afgestaan het, het dit onderstreep.
Volgens Strauss het die Crusaders baie goed geskrum, maar het die Cheetahs se voorspelers nie hul kant gebring nie.
“Die oorstootdrie het seer gemaak.
“Ons is ook kort tevore gestraf omdat ons vroeg ingeslaan het, terwyl hulle dieselfde gedoen het en nie gestraf is nie. Dis egter geen verskoning vir ons swak vertoning nie.
“Ons vat dit op die ken, maar hulle was baie goed,” sê hy.
Toe Wian du Preez (plaasvervanger-stut) ná rustyd in Coenie Oosthuizen se plek kans gekry het, het dit ietwat beter gegaan.
Strauss sê Os du Randt, die span se skrumdokter, het met rustyd raad gegee en ’n paar verstellings is gemaak.
“Ons het besef dat al agt voorspelers sal moet skrum en saamwerk.”
Hoewel die Crusaders nie aanvanklik die drieë ingeryg het nie, was die Cheetahs se verdediging swak en kon die tuisspan eindelik sewe gaan druk.
Sarel Pretorius (skrumskakel) en Viljoen het as skakelpaar gelyk of hulle iets op die aanval kon uitrig, maar toe Viljoen kort voor rustyd die veld moes verlaat, het Pretorius ’n alleenstryd in dié opsig gevoer.
Raubenheimer het sy eerste kans in die beginspan aangegryp.
Volgens Drotské moes Corné Uys (buitesenter) hom kort voor die wedstryd weens ’n beseerde tussenribspier aan die kragmeting onttrek.
Hy was aanvanklik in die beginspan, maar is deur Robert Ebersohn vervang.
Puntemakers:
Crusaders: 45 (26): Drieë: Kahn Fotuali’i, Ryan Crotty, Thomas Waldrom (2), Sean Maitland, Ben Franks, Zac Guilford. Doelskoppe: Colin Slade (5).
Cheetahs: 6 (6): Strafdoele: Riaan Viljoen, Meyer Bosman.
- Volksblad