Juan Kaapstad toe om spesialis te spreek
2012-01-24 09:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kimberley. – Die Cheetahs se vergrote Super-rugbygroep het as voorsorgmaatreël sonder hul een Springbok-flank, Juan Smith, vir hul weeklange oefenkamp na Jeffreysbaai vertrek.
Dié staatmaker het onlangs weer begin oefen nadat hy bykans ’n jaar weens ’n haksening-besering buite aksie was. Hy het weer ongemak begin verduur en het nie Maandag saam met die res van sy spanmaats op die bus see toe geklim nie.
“Dis nie iets om oor paniekerig te raak nie en is bloot ’n voorsorgmaatreël. Juan sal ’n skandering ondergaan en dan ’n spesialis in die Kaap spreek. Ons wil net seker maak dat hy 100% reg is,” het die Cheetahs se spandokter, Ian Morris, Maandag gesê.
Die plan is dat Smith op 25 Februarie teen die Lions in Johannesburg tot die span sal terugkeer, maar net tyd sal leer of hy betyds sal herstel.
“Dit is moeilik om ’n spesifieke datum te gee. Dit is ’n besering waarmee ’n mens maar geduldig moet wees en hoop vir die beste,” het Morris gesê.
Griekwas se losvoorspeler Leon Karemaker het Saterdag ’n oproep ontvang waarin hy meegedeel is dat hy Smith se plaasvervanger vir die oefenkamp is.
Karemaker is aanvanklik weggelaat uit die toergroep, maar kry nou opnuut kans om vir hom ’n kleim af te steek.
Hy kan steeds van groot waarde wees vir die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, indien Smith se herstel langer duur as wat die spanbestuur voor gehoop het.
“Juan het pyn in sy hak verduur en ons het besluit dat hy nie die oefenkamp moet meemaak nie. Hy sal hom ook nie later by ons aansluit nie, want dit is bloot nie die moeite werd nie. Leon is in sy plek ingesluit,” het die Cheetahs se een hulpafrigter, Hawies Fourie, gesê.
Karemaker het self eers onlangs volkome herstel van ’n skouerbesering en het gevolglik bitter min in verlede jaar se Curriebeker-reeks gespeel.
Die onus rus nou op hom om na sy aanvanklike weglating in een van die voorseisoense opwarmwedstryde te bewys dat hy in Smith se moontlike afwesigheid sy skoene kan vol staan.
Hy sal om insluiting meeding met aanspraakmakers soos Heinrich Brüssow, Johan Wessels, Smith, Davon Raubenheimer, Justin Downey, Ashley Johnson en Philip van der Walt.
“Al die losvoorspelers is in dieselfde bootjie wat hul insluiting betref. Iemand soos Heinrich Brüssow kies homself, maar die res sal moet uithaal en wys,” het Fourie bygevoeg.
Die Cheetahs speel Saterdag in hul eerste losmaker, teen die Southern Kings in Oos-Londen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24