Heita, Bulls!
2010-05-22 11:29
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Johannesburg - Soweto skree vandag nie “Up the Bucs!” nie, maar wel “Up the Bulls!”.
Die Bulls het vandag ’n nuwe bondgenoot in sy strewe om die tweede agtereenvolgende seisoen in die eindstryd van die Super14-reeks te speel.
Die Bulls maak geskiedenis deur die eerste internasionale rugbywedstryd ooit in Soweto se Orlando-stadion te speel wanneer hy teen die Crusaders te staan kom.
Die stadion is die tradisionele tuiste van die sokkerspan Orlando Pirates en volgens Nkosana Khoza, Orlando Pirates se bemarkingsbestuurder, kan die Bulls op almal se ondersteuning reken.
“Ons open ons huis se deure die naweek vir hulle om geskiedenis in Soweto te maak. Ons wil hê die wêreld moet weet ons skree nie die naweek ‘Up the Bucs!’ nie, maar wel ‘Up the Bulls!’.
“Ons wil hê die Bulls moet weet ons huis is hul huis, nie net vir die span nie, maar ook vir die duisende Bulls- ondersteuners wat hierheen kom. Soweto wil julle hier hê en Soweto verwelkom julle hier.”
Die simboliese besoek is vroeër ook deur emeritus aartsbiskop Desmond Tutu verwelkom en sowat 40 000 toeskouers gaan na verwagting uit alle oorde opruk om die Super14-kampioene aan te spoor.
Toeskouers sal met verskeie parkeer-en-ry-keuses opruk Soweto toe en die Blou Bulle Maatskappy het hulle aangeraai om vroeg reeds by die stadion op te daag.
Vermaak word verskaf en kosstalletjies en biertuine is opgerig.
Op die veld kan die Bulls egter nie enige gasvryheid verwag nie.
Die Crusaders het vandeesweek by verskeie geleenthede aangedui dat hulle weet hoe om die Bulls se onoorwonne rekord van 17 tuiswedstryde tot ’n einde te bring en dat hulle niks anders as wraak soek nie vir die omstrede nederlaag twee weke gelede op Loftus.
Tóé het die Bulls met ’n omstrede drie in die doodsnikke gewen.
Daar moet egter vrae gevra word oor die besoekers, wat twee keer in soveel weke die Indiese Oseaan moes oorsteek en moontlik deur vlugflouheid gepla kan word, se fiksheid.
“Ons sal steeds die druk op die Crusaders moet plaas as ons wil hê dit moet ’n faktor wees,” het Victor Matfield, kaptein van die Bulls, oor dié moontlike voordeel gesê.
Die Bulls se spelers behoort nie sulke probleme te hê nie nadat 14 van die beginspan nie verlede naweek teen die Stormers gespeel het nie.
Hulle sal egter kritiek oor dié taktiek, sowel as die aanslag wat die Crusaders tussen die vier lyne gaan lewer, moet afweer.
Dit is die derde keer die afgelope vier jaar dat die twee spanne in die halfeindstryd kragte meet.
In 2006 het die Crusaders in Christchurch gewen en in 2007 en verlede jaar het die Bulls op Loftus Versfeld koning gekraai.
Die wenner van die wedstryd speel volgende Saterdag in die eindstryd van die reeks teen óf die Stormers óf die Waratahs.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.