Habana vol lof vir spanmaats
2010-04-29 08:03
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - Bryan Habana het verlede week vir die Stormers ’n kosbare bonuspunt met sy doodvat op Will Genia gered, maar dié Springbok-vleuel hoop om in Vrydagaand se Super14-rugbywedstryd teen die Crusaders op Nuweland weer op die aanval uit te blink.
“Ek was gelukkig om my arm onder die bal te kry, maar dis al.
Dit was goed om ’n bydrae te kon lewer, maar hopelik kan ek meer doen as om te verhoed dat drieë gedruk word en hierdie naweek self ’n paar druk,” sê Habana.
Hy het al vier drieë in sy 10 wedstryde vir die Stormers gedruk, maar dis veral sy onblusbare werketiek, eerder as net sy vermoë om skouspelagtige dinge te doen, waarmee hy vanjaar weer beïndruk.Dis dan ook waarom dit heel gepas is dat hy daardie wonderdrie teen die Chiefs vir die Stormers afgerond het en ook verlede week ’n bonuspunt met die doodvat in Brisbane gered het.
“Jy word deesdae tot só ’n mate ontleed dat jy jouself heeltemal sal isoleer en nie ’n bydrae sal kan lewer as jy op jou vleuel bly en nie werk soek nie,” sê Habana.“Dis vir my belangrik om te streef na die standaarde wat ek stel en om vir jong spelers ’n voorbeeld te wees.
“Dit gaan ook nie oor hoe hard Bryan Habana werk nie. Sireli Naqelevuki is ’n onbesonge held. Hy dra hoeveel verdedigers op sy rug en werk hard van sy vleuel af.“Dis goed om ’n werketiek te hê, maar dit moet in perspektief gesien word.
Dis net belangrik as jy dit vir die span en nie vir jouself doen nie.“Hopelik kan ek in die volgende paar weke harder werk en ’n bydrae lewer wat die span help om welslae te behaal.”Habana het in 2007 en 2009 Super14-titels saam met die Bulls gewen en met die druk op die Stormers in die aanloop tot die halfeindronde kan sy ervaring van onskatbare waarde wees. Hy glo die Stormers het genoeg ervaring tussen hul senior spelers om die volgende klompie weke met kalmte aan te pak.
“Schalk Burger en Jaque Fourie het ervaring van ’n Wêreldbeker-triomf en Andries Bekker was verlede jaar by die Drienasies-reeks betrokke,” sê Habana.
“Daar is baie goeie individue in dié span en die een ding wat my werklik opgewonde gemaak het om hiernatoe te kom, is die potensiaal om welslae te behaal.
“Ons tel positiewe energie by mekaar op en word uitstekend deur Schalk gelei.”Van Habana se vier drieë was die een teen die Chiefs verreweg die aanskoulikste, hoewel hy net moes afrond. “Ek sal nie omgee om 10 keer in die seisoen twee meter vir ’n drie te stap nie,” sê hy.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24