Habana se gróót kans
2011-03-17 09:29
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Allister Coetzee gee toe dat Bryan Habana nie op sy beste peil is nie, maar die Stormers-afrigter glo steeds dat sy Springbok-vleuel Saterdagaand ’n belangrike speler in die Super Rugbywedstryd teen die Bulls op Loftus Versfeld kan wees.
Habana het die Blou Bulle aan die einde van 2009 verlaat en verlede jaar by die Westelike Provinsie aangesluit. Hy het in sy eerste seisoen sewe drieë in 14 wedstryde vir die Stormers gedruk en veral met sy werkverrigting indruk gemaak.
Sy spelpeil het egter verlede jaar by die Springbokke ’n yslike insinking beleef en dis veral sy neiging om groot blapse te begaan wat kommer wek. Voorbeelde daarvan is die afskop wat hy in verlede jaar se Drienasies-reeks teen Australië misgevang het en die onderskep-aangee die afgelope naweek teen die Highlanders. Sy uitskiet-verdediging het veral ook op toetsvlak probleme veroorsaak.
Coetzee het verlede week, ná die Highlanders-stryd, die Kaapse media daarvan beskuldig dat hulle Habana onnodig kritiseer.
Vandeesweek het hy gesê hoe belangrik Habana se “X-faktor” vir die span is.
“Ek dink dis belangrik om Bryan in ons span te hê,” het Coetzee voor die groot stryd teen die Stormers se aartsvyande gesê.
“Bryan speel tans nie die wêreld aan die brand nie, maar doen steeds dinge wat ek waardeer en dra by tot die span se welslae.
“Sy ervaring op en weg van die veld lewer ’n reuse-bydrae. Dis moeilik om te verduidelik wat hy vir ’n jong speler soos Danie Poolman beteken en hoe hy agterlangs kommunikeer.
“Ek kan verstaan waarom julle sê hy is teleurstellend op die aanval en wil sien dat hy drieë druk. Ek waardeer dit egter wanneer hy dinge doen soos om die bal te jaag, dit vang en omkeerbesit wen, of ’n doodvat uitvoer.
“Ek wil hê hy moet aanhou om daarop te fokus, maar ook besef dat hy die ‘X-faktor’ het en ons moet hom in die posisies kry waar hy dít ten toon kan stel.”
Hier speel die Stormers se taktiek natuurlik ook ’n rol. Een drie in 240 minute se Super Rugby dui op ’n span wat nie dinamies op die aanval is nie, hoewel daar al ’n verbetering teen die Highlanders was.
Dis egter belangrik vir die Stormers se welslae dat hul groot spelers met groot vertonings vorendag kom. Of die Westelike Provinsie werklik waarde vir sy aansienlike belegging in Habana kry, is tans te betwyfel.
By die Bulls was sy vertoningslys 37 drieë in 61 wedstryde en by die Stormers is dit nou sewe in 17. Twee van die drieë vir die Stormers was verlede jaar teen ’n verswakte span van die Bulls .
By die Springbokke was sy 13 drieë in 2007 meer as in die daaropvolgende drie internasionale seisoene saam – twee in 2008, vier in 2009 en twee in 2010.
Die taktiek van spanne waarin hy gespeel het, was natuurlik ’n bydraende faktor in die kwynende drieëtal.
Hy is in 2009 hoofsaaklik deur die Bokke gebruik om hangskoppe te jaag wat Fourie du Preez op ’n tiekie geplaas het. Die Stormers is baie trots op hul verdediging en “smoor” spanne letterlik tot oorgawe.
Dat Habana ondanks daardie faktore met sy spelpeil sukkel, is egter ’n feit.
Coetzee wou in sy aanvanklike koppestamp-sessie met die media weet wie hy eerder moet kies.
Dis seker so dat Habana in druksituasies nog ’n beter keuse as JJ Engelbrecht, Marcel Braché of Tythan Adams is.
Dit kan egter nie onbepaald só aangaan nie, want die laaste ding wat Coetzee kan bekostig, is om die boodskap uit te stuur dat enige speler – ook diegene wat hulself as handelsmerke in rugby beskou – onaantasbaar is.
Vir Habana kan daar werklik nie ’n beter geleentheid wees om sy ware kleure te wys as ’n wedstryd in sy voormalige werkgewer se agterplaas nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24