Habana dalk weer op senter
2012-02-20 19:55
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Herman Mostert
Kaapstad – Die Stormers kan moontlik weer die Springbok-vleuel Bryan Habana op senter inspan vir hul Super Rugby-wedstryd Saterdag teen die Hurricanes op Nuweland.
Daar is Maandag bevestig dat die senter Juan de Jongh, wat ‘n paar weke gelede sy kakebeen teen die Lions beseer het, nie vir die naweek se wedstryd oorweeg sal word nie. Dit kan Allister Coetzee, afrigter, noop om Habana as Jean de Villiers se sentermaat te kies.
Habana het buitesenter gespeel in die Stormers se voorseisoense wedstryd teen die Southern Kings op 11 Februarie en Coetzee was tevrede met sy poging.
Indien Habana wel op senter gekies word, sal Gio Aplon en Gerhard van den Heever die vleuels wees, met Joe Pietersen wat op heelagter sal uitdraf.
Coetzee het vroeër sy voorneme uitgespreek om Aplon in 2012 meer op vleuel as op heelagter in te span.
Die losvoorspeler Nick Koster en die skrumskakel Dewaldt Duvenhage het intussen albei die groen lig gekry om teen die Hurricanes te speel.
Duvenhage sal sy eerste wedstryd vanjaar speel nadat hy al die Stormers se voorseisoense wedstryde gemis het weens ‘n besering. Koster het ‘n kniebesering in die wedstryd teen die Kings opgedoen, maar het genoegsaam herstel, is Maandag aangekondig.
Die slot Rynhardt Elstadt, wat ‘n enkelligament teen die Kings geskeur het, sal Woensdag geassesseer word voordat ‘n finale besluit oor sy deelname gemaak word.
- Volg Nuus24Sport op Twitter