Grant nie in Leeukuil
2011-04-15 07:01
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Die Stormers se afrigtingspan vertrou Gary van Aswegen sal die derde keer vanjaar ’n Leeutemmer wees wanneer dié jong losskakel môre in ’n Super Rugbywedstryd op Coca-Colapark teen die Lions losgelaat word.
Van Aswegen kry sy kans in die beginspan nadat die Stormers gister besluit het om Peter Grant vanweë ’n kniebesering aan hul span te onttrek.
Dit beteken die Kapenaars sal sonder die hulp van die reeks se voorste puntemaker weer op die wenpad moet kom nadat hulle verlede naweek teen die Reds verloor het.
“Peter het Dinsdag nog geoefen en die besering het toe wéér opgevlam.
Ons het toe besluit om hom vir nog ’n skandering te stuur en gevoel dis beter om hom nie te laat speel nie.
Dit maak nie sin om ’n speler te druk as hy nie 100% fiks is nie,” het die Stormers se agterlyn-afrigter, Robbie Fleck, gisteraand gesê.
“Gary sou in elk geval vandeesweek gespeel het indien ons die Reds verlede week geklop het.”
Die Stormers was reeds voor die onttrekking van Grant sonder Bryan Habana (kniebesering), Jean de Villiers (lies) en Rynhardt Elstadt (been) vir die wedstryd in Johannesburg.
Tog sal hulle selfs sonder vier staatmakers steeds die oorweldigende gunstelinge wees om met die Lions af te reken.
Van Aswegen was al twee keer vanjaar vir die Stormers aan die wenkant teen die Lions.
Hy het in die voorseisoense wedstryd in die Neo Africa-reeks uitgeblink toe die Stormers met 15-0 gewen het en het ook skaflik gevaar in die sege van 19-16 in hul eerste Super Rugbywedstryd van die seisoen teen John Mitchell (afrigter) se span.
“Daar is ’n paar dinge wat ek van Gary hou. Hy skop die bal goed uit die hand en hy kry lekker afstand. Boonop is hy sielkundig sterk en hou hy daarvan om die wedstryd te beheer. Gary deins ook nie terug vir kontak nie.”
Fleck is nie bekommerd dat die Lions sonder drie van die Stormers se mees ervare agterspelers aangedurf word nie.
“Ons kom in elk geval naby aan die tyd dat ons spelers moet roteer. Dis nie ’n slegte ding nie, want jou spelers kom met vars idees en bene terug.”
Met Van Aswegen nou in die Stormers se beginspan, is Lionel Cronjé van die WP se Vodacombeker-span ontbied om op die plaasvervangersbank diens te doen.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg