G’n genade vir ‘B-span’
2010-05-13 08:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - De Wet Barry se verdediging het al vir Suid-Afrika ’n rugbytoets teen Australië op Nuweland gewen, maar die Stormers twyfel geensins in Juan de Jongh se vermoë om sy man te kan staan teen dié veteraan-Springbok in Saterdag se Super14-rugbywedstryd nie.
“Ek het baie vertroue in ons senterkombinasie. Hulle het al vir Ma’a Nonu en Conrad Smith, vir Stephen Donald en Richard Kahui, én die Blues se senterpaar (Luke McAlister en Rene Ranger) hanteer en goed vertoon,” het die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, gesê.
“Ons gaan nie opdaag en kyk hoe hierdie sogenaamde B-span ons onder druk plaas nie. Ons ruk op na Nuweland om te wen en die halfeindronde te haal. Dís ons motivering.”
Coetzee het gister sy A-span gekies vir die kragmeting met die Bulls se B-span, met drie veranderinge en ’n posisionele skuif aan die span wat verlede Saterdag met 14-20 teen die Sharks in Durban verloor het.
Bryan Habana keer terug op die linkervleuel in Tim Whitehead se plek, Joe Pietersen is op heelagter en Gio Aplon skuif daarom regtervleuel toe in plek van Sireli Naqelevuki.
“Ek kyk altyd na die teenstander voor ek ’n span kies en verwag die Bulls gaan met ’n lugaanval kom,” het Coetzee gesê.
“Joe is ons top-heelagter en weer beskikbaar. Dis ook die regte ding om ’n skopper met ’n linkervoet op die regtervleuel in Gio te hê. Bryan, Gio en Joe het in al die wedstryde wat hulle saam gespeel het hul teenstanders se skoptaktiek baasgeraak. Hopelik is dit weer vandeesweek die geval.”
Voorlangs keer Wicus Blaauw op loskopstut terug in JD Moller se plek. Blaauw kan dalk ’n bietjie met sy wedstrydfiksheid sukkel, maar sy terugkeer kan vir die Stormers van onskatbare waarde wees indien hulle na die halfeindronde deurdring.
“Ons wil vir Wicus so lank as moontlik laat speel. Hy het baie hard gewerk en sy kondisionering lyk goed. Ek is vol vertroue dat hy met gemak meer as 60 minute sal kan speel,” het Coetzee gesê.
’n Bulls-span wat deur Bakkies Botha aangevoer word en Barry in die middelveld het, kom beslis nie Nuweland toe om soentjies te blaas nie. Dit gaan die Stormers egter nie baat om hul koppe oor die moontlikheid van beserings te breek nie.
“Ons fokus op dit wat ons kan beheer,” het Coetzee gesê.
“Die span wat die Bulls gekies het, is nie binne ons beheer nie. Wat ons kan beheer, is die akkuraatheid waarmee ons speel.”
Die Stormers het onder meer beeldmateriaal van die Blou Bulle se Vodacombeker-wedstryde bestudeer en tot die slotsom gekom dat die Bulls se benadering min of meer dieselfde sal wees, ongeag watter span hulle kies.
“By hulle gaan dit nie daaroor om innoverend te wees nie, maar oor akkurate uitvoering. Hulle doen die basiese dinge baie goed,” het Coetzee gesê.
Die Stormers-spans is:
Joe Pietersen, Gio Aplon, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Adriaan Fondse, Brok Harris, Tiaan Liebenberg, Wicus Blaauw.
PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Eusebio Guinazu, Anton van Zyl, Pieter Louw, Ricky Januarie, Willem de Waal, Tim Whitehead.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24