Gesoek: Stut van gehalte vir Sharks
2012-02-21 09:59
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg. – Die Sharks se stut-probleem neem nou krisis-afmetings aan nadat Julian Redelinghuys sy enkel teen die Southern Kings gebreek het en vir minstens vier maande buite aksie gaan wees.
Dit is dieselfde besering wat Beast Mtawarira onlangs opgedoen het en hom ook uit die eerste helfte van die Super-rugbyreeks sal hou.
Met dié twee op die krukkelys het die Sharks nou net drie stutte in hul Super-groep.
Hulle is Jannie du Plessis, Dale Chadwick en Wiehahn Herbst.
John Plumtree, die Sharks se afrigter, het gesê daar sal nou ernstig gesoek moet word na ’n stut van gehalte om by die groep te voeg.
Die Springbok-vleuel Odwa Ndungane sal ook nie deel wees van die Sharks wat die Bulls Vrydagaand in Pretoria in hul eerste Super-wedstryd van die seisoen pak nie.
Hy het sy skouer teen die Kings beseer en die spandokter, Ewoudt van der Linde, het Maandag gesê daar sal nie sommer ’n kans met hom gewaag word nie.
Ndungane se besering beteken die plan om JP Pietersen as buitesenter in te span kan voorlopig op die ys geplaas word en dat hy weer as vleuel kan uitdraf.
Plumtree kan ook besluit om Sburu Sithole vleuel te laat speel en Pietersen die nr.13-trui te gee.
Sou Pietersen wel as vleuel gekies word, kan Meyer Bosman en Marius Joubert die senterpaar wees.
Plumtree het sy tevredenheid uitgespreek met die vertoning en sege oor die Kings (38-13) en was veral tevrede met die spel by die afbreekpunte en hoe hulle die wedstryd beheer het.
“Die Kings se groot en sterk voorspelers het ook ’n paar gebreke in ons mondering blootgelê en dit is iets waaraan hierdie week aandag gegee sal word.
“Hul dryfspel is presies wat ons van die Bulls kan verwag. Ons agterlyn was gevaarlik en het met mening aangeval. Ons hantering en verspreiding was goed en in die geheel was ek tevrede met die vertoning.”
Plumtree glo sy keuses op die plaasvervangersbank gaan ook baie belangrik wees, want dit is nodig om die intensiteit in die laaste 20 minute te verhoog.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24