Generaal Grant hou sleutel
2011-06-18 07:43
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - As die Stormers enigsins verdere motivering nodig gehad het om die Cheetahs vanaand in die Rosestad kaf te draf, is dit Vrydag deur die Blues verskaf.
Met hul sege van 33-16 oor die Highlanders het die Aucklanders vir minstens ’n dag die tweede plek op die algehele puntelys by die Kapenaars afgeneem. Daardie posisie is van belang omdat dit ’n kortpad halfeindronde toe bied.
Hoewel die Blues slegs twee punte voor die Stormers is, is die kanse goed dat die Crusaders Saterdagoggend verby albei daardie spanne gaan skuif deur die Hurricanes in Wellington te klop.
As die Stormers verloor, sal hulle aanstaande naweek ’n kwarteindstryd moet speel – waarskynlik as Suid-Afrikaanse groepwenners teen die Waratahs op Nuweland.
Om dit anders te stel: die Stormers is nie vanaand soseer in ’n oorlewingstryd gewikkel nie, maar hul kanse om eindelik as kampioenspan gekroon te word, kan erg geknou word deur ’n nederlaag. Dit sal effektief neerkom op ’n ekstra wedstryd en tuisveldvoordeel wat in die halfeind ingeboet kan word.
Moet egter nie van die Cheetahs verwag om dit vir die Stormers maklik te maak nie. Met die aanvallende instinkte van spelers soos Sarel Pretorius en die Ebersohn-broers, Sias en Robert, kan die Cheetahs enige span hoofbrekens besorg.
Die verwagting is dat die Stormers hul smoortaktiek sal toepas om ’n sege te probeer verseker en nie sal aanpas na aanleiding van wat vroeër in die dag in Hamilton gebeur nie. As die Reds dáár teen die Chiefs verloor, is daar nog ’n moontlikheid dat die Stormers eerste op die algehele puntelys kan eindig. Hulle sal teen die afskop-tyd weet of dit vier of vyf ligapunte sal verg.
’n Span kan egter nie aan ’n bonuspunt-sege dink alvorens hy nie van die sege seker is nie. Peter Grant se terugkeer verseker dat die Stormers ’n losskakel het wat die telbord aan die rol kan hou. Hy het al die punte aangeteken toe die Stormers die Cheetahs vroeër met 21-15 geklop het.
Met Dewaldt Duvenage beseer, het die Stormers besluit om ’n verandering aan die plaasvervangersbank aan te bring. Earl Rose neem Conrad Jantjes se plek sodat die Kapenaars ’n spesialis-losskakel het indien Grant nie die volle 80 minute kan deurdruk nie.
Daar sal baie druk op die jong Stormers-skrumskakel, Louis Schreuder, wees en daarom is dit belangrik dat die besoekers se voorspelers vir hom die weg baan vir ’n gemaklike aand. Verlede week het die Stormers sleg tweede in die lynstane gekom en die Springbok-slot Andries Bekker wil vanaand daarvoor vergoed.
Die Cheetahs het wel ’n dinamiese voorry, maar Coenie Oosthuizen se talent word soms deur sy gebrek aan dissipline oorskadu. Hy kan ’n handvol wees om in toom te hou, maar terselfdertyd vir Grant geleenthede bied. Hou dus die Stormers se nr. 10 dop.
Die spanne is:
Cheetahs: Hennie Daniller, Riaan Viljoen, Robert Ebersohn, Barry Geel, Rayno Benjamin, Sias Ebersohn, Sarel Pretorius, Davon Raubenheimer, Ashley Johnson, Johan Wessels, Martin Muller, Francois Uys, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Coenie Oosthuizen. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Lourens Adriaanse, Izak van der Westhuizen, Pieter Myburgh, Tewis de Br)uyn. Corné Uys, Riaan Smit.
Stormers: Gio Aplon, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan Habana, Peter Grant, Louis Schreuder, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Rynhardt Elstadt, Brok Harris, Tiaan Liebenberg, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Frans Malherbe, Anton van Zyl, Nick Koster, Nic Groom, Johann Sadie, Earl Rose.
Skeidsregter: Marius Jonker.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24