Francois Hougaard straks geKaap
2011-06-15 08:07
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Ricky Januarie se skuif na die Franse klubspan Lyon kan die weg baan vir Francois Hougaard om aanstaande jaar vir die Stormers in die Super Rugbyreeks te speel.
Sport24 het van etlike bronne verneem dat dié Bulls-ster op die Westelike Provinsie se inkopielys gaan wees.
Hougaard (23) is ’n produk van die WP – hy was in Paul Roos Gimnasium op skool en het boonop sy senior buiging as 18-jarige in die Streeptruie se senior span gemaak.
Hy is aan die einde van 2007 na Pretoria gelok.
Die feit dat sy kontrak met die Blou Bulle aan die einde van die seisoen verstryk, kan die WP laat besluit om sy verlore seun huis toe te bring.
Terselfdertyd is die Blou Bulle se visier op die Stormers se opkomende ster Johann Sadie.
Daar word bespiegel dat ’n yslike aanbod, wat meer as R1 miljoen per seisoen beloop, as aas gebruik gaan word.
Sadie het vanjaar vir die Stormers in wedstryde teen Nieu-Seeland se twee voorste spanne – die Crusaders en Blues – as onderskeidelik vleuel en senter uitge-blink.
Die Blou Bulle se direkteur van rugby, Heyneke Meyer, het verlede week aan ’n webtuiste gesê dat Sadie waarde aan Suid-Afrika se groep van 30 spelers vir die Wêreldbeker-toernooi kan toevoeg.
Die toernooi begin op 9 September in Nieu-Seeland.
Meyer was seker opreg in sy opmerking, maar dit lyk terselfdertyd soos ’n poging om die jongeling heuning om die mond te smeer voor die vensterperiode om amptelik met spelers te onderhandel – op 1 Julie – in werking tree.
Die WP het soveel puik senters op sy boeke dat dit moeilik is om te sien hoe almal volgende jaar by die Stormers speelkans gaan kry indien Jean de Villiers en Jaque Fourie albei in die Kaap bly.
Tog het Sadie ook al sy slag op vleuel gewys en dit kan ’n logiese plek vir hom wees om te speel voordat hy en Juan de Jongh uiteindelik vir De Villiers en Fourie in die Stormers se middelveld opvolg.
Indien dít die WP se loopbaanplan vir Sadie is, sal die unie ernstig moet besin of dit die moeite werd is om weer vir Bryan Habana te kontrakteer.
Dié Springbok-vleuel beleef ’n flou seisoen gemeet aan standaarde vroeër in sy loopbaan en sy afrigter by die Stormers, Allister Coetzee, moes Saterdagaand wéér vir hom op ’n mediakonferensie in die bresse tree.
Habana is Saterdag met hoë balle deur die Bulls gepeper, maar meer kommerwekkend was sy onvermoë om af te rond toe hy in die laaste beweging van die wedstryd diep in die besoekers se gebied in besit gestel is. Bjorn Basson het hom ingehaal en gelak.
Die WP sal moet bereken of die kool die sous werd is, gegewe die hap wat die Bok-vleuel uit hul begroting neem.
Daar is met die oog op aanstaande jaar twee posisies by die WP wat waarskynlik aangevul moet word – heelagter en skrumskakel.
Riaan Viljoen kan moontlik ná Griekwas se Curriebeker-veldtog Kaap toe trek om die probleem in die laaste vesting op te los.
Januarie se besluit om ná die Super Rugbyreeks koers te kies beteken dat die Stormers ’n ervare skrumskakel sal wil werf om met Dewaldt Duvenage om die nr. 9-trui mee te ding.
Hougaard sal ’n goeie opsie wees en is terselfdertyd ook ’n produk van die WP Rugbyinstituut in Stellenbosch.
Hy gaan egter nie goedkoop wees nie en is aanstaande jaar in Pretoria van speelkans verseker omdat Fourie du Preez ná die Wêreldbeker-toernooi in Japan gaan speel. Die toernooi eindig op 23 Oktober.
Die WP het waarskynlik ook ’n duur stryd op hande om Sadie uit die Bulls se kraal te hou.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24