Franco gee Lions hupstoot vir katgeveg
2012-02-21 09:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Terwyl die Lions Saterdag met ’n byna ongekende hoeveelheid selfvertroue hul eerste salvo in Super-rugby vir 2012 sal vuur, het hulle ook ’n groot hupstoot gekry.
Die slot Franco van der Merwe het die jawoord gekry om in dié wedstryd teen die Cheetahs te speel. Daar is oor die naweek nog angstig duim vasgehou oor die beskikbaarheid van ’n handvol van die Lions se beste voorspelers vir die groot katgeveg.
Veral die Lions se slotpaar was onder die vergrootglas vir hul eerste wedstryd van die seisoen, aangesien ’n wolk van onsekerheid oor Van der Merwe én Wikus van Heerden gehang het.
Dié twee staatmakers het van hul beste rugby as die Goue Leeus se slotte in verlede jaar se Curriebeker-wenlopie gespeel.
Maar terwyl Van der Merwe se beseerde oogkas hom nie uit die Cheetahs-stryd gaan hou nie, word daar nog oor Van Heerden se kniebesering gewik en geweeg.
Boonop herstel die vurige Michael Rhodes, wat sowel slot as flank kan speel, ook nog van ’n seer knie, terwyl die Pumas-leenproduk Marius Coetzer nog las van ’n seer skouer het.
Om sake te vererger het die jong Ruaan Botha, wat in die sege van 88-0 oor die Southern Kings as slot gesak het, sy enkel sodanig beseer dat hy nog vir ’n wyle langs die kantlyn sal sit.
Die jong aanwinste Hendrik Roodt (24) en Stephan Greeff (22) het wel in die voorseisoen beïndruk en die Lions-afrigter, John Mitchell, het Roodt en Greeff in die losmakers teen die Stormers en die Kings gebruik.
Hulle is dus ingeoefen as Mitchell op hul knoppies druk. Roodt is in die binnebaan om as Van der Merwe se slotmaat te speel.
Nog ’n speler wat moontlik nie oorweeg kan word nie, is die Springbok-stut CJ van der Linde wat van ’n liesbesering herstel.
JC Janse van Rensburg en Patric Cilliers is nietemin tans die Leeus se voorste stutpaar en behoort die Cheetahs aan te durf.
Natuurlik is die haker Bandise Maku ook lank weens ’n besering buite aksie, wat aan Callie Visagie sy vuurdoop behoort te gee.
’n Lostrio van Cobus Grobbelaar, Derick Minnie en Josh Strauss behoort die agttal te voltooi.
Agterlangs is Alwyn Hollenbach en Doppies la Grange (senter), Deon van Rensburg (vleuel) en Jaco Taute (heelagter) straks seker keuses.
Wat die linkervleuel-posisie betref, is Michael Killian, Lionel Mapoe en James Kamana kandidate.
Intussen het die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) sy vakante pos van uitvoerende hoof begin adverteer nadat Manie Reyneke einde verlede jaar vort is.
Ruben Moggee het tydelik in die pos waargeneem, maar ’n nuwe kortlys sal nadat onderhoude gevoer is, opgestel word.
Die uitverkorene sal na verwagting in die tweede kwartaal van 2012 aangestel word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24