Ervare Gerber terug by Bulls
2012-02-02 07:40
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria. – Die Bulls het ’n waardevolle versterking gekry drie weke voordat die Super-reeks vir hulle hier op Loftus Versfeld teen die Sharks afskop.
Rayno Gerber, wat in die vorige dekade ’n bekende en gewilde gesig in die Bulls-trui was, is terug in die Jakarandastad en gooi van Woensdag af sy sowat 120 kg by die span in.
Gerber het ’n kontrak onderteken wat hom tot 31 Augustus in die Bulkraal gaan hou.
Dit kom op ’n uiters geleë tyd vir die Bulls, aangesien Rossouw de Klerk, wat in 2011 gereeld as Werner Kruger se adjudant uitgedraf het, weens ’n voetbesering vir ’n groot deel van die reeks nie sal kan speel nie.
Gerber het twee Super-titels saam met die Bulls gewen voordat hy in 2009 Stade Francais toe is.
Ironies genoeg is hy hier weg as eerstekeuse-vaskop en dit het Kruger kans gegee om te ontwikkel tot die voorslag-vaskop wat hy nou is.
Dié keer sal hy waarskynlik as Kruger se adjudant waarneem.
“Ek wou terugkom Suid-Afrika toe, veral vir my gesin se onthalwe. Ek het twee klein kindertjies en wil hulle hier tussen hul familie grootmaak. Die kans om by die Bulls in te val, kom dus op die ideale tyd vir my,” het Gerber gesê.
“Dit is ook ’n kans om weer terug te kom in Suid-Afrikaanse rugby.”
Gerber het einde verlede jaar laas gespeel en besef hy sal hard moet werk om weer die verlangde fiksheidspeil te bereik.
“Ja, dit gaan knor, die ouens hier werk mos maar ’n man se gal, maar die Bulls het nog altyd ’n baie hoë premie op fiksheid geplaas.
“Ek het so vyf, ses maande laas gespeel en dit gaan taai wees, maar ek is baie opgewonde om weer terug te wees.
Daar is ’n paar nuwe gesigte in die span, maar gelukkig ook ’n paar bekendes, so ek voel al klaar weer tuis.”
Die Bulls-breier, Frans Ludeke, was ewe tevrede.
“Rayno is ’n yster en ’n hardebaard. Wat meer kan jy op vaskop vra. Ek is baie bly hy is weer by ons, veral gegewe die besering aan Rossouw.
Hy is ook ’n ervare speler wat vinnig sal inpas en sy rol in die span sal vervul. Dit is goeie nuus vir ons veldtog,” het Ludeke gesê.
Dié nuus sal goeie druk op Frik Kirsten plaas, wat Saterdag teen die Kings uitdraf.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24