Elton Jantjies kry trekpas
2011-04-15 09:03
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Lions begin die tweede helfte van hul Super Rugby-seisoen Saterdag met ’n nuwe losskakel nadat Burton Francis bó Elton Jantjies vir die kragmeting met die Stormers gekies is.
Beserings het ’n groot rol gespeel in hul afrigter, John Mitchell, se besluit om sewe veranderinge te maak aan die span wat teen die Sharks verloor het.
Tog is dit nie die enigste rede vir die skuiwe nie, want Jantjies, die slot Franco van der Merwe en die stut Patric Cilliers is almal hul plekke kwyt.
Die Lions se kleitrappery in die vaste fasette, en veral in die lynstane, het tot laasgenoemde twee se weglating gelei.
“Een ding wat duidelik is, is dat ek nie met middelmatigheid tevrede gaan wees nie,” het Mitchell gesê.
“Ek plaas groot aanspreeklikheid op die spelers en ons sal sien wie gaan byhou vir die res van die reeks en wie gaan uitsak.”
Mitchell het die gesukkel in die lynstane as die groot rede vir sy span se laaste twee nederlae uitgelig.
David de Villiers, ’n lynstaanspesialis, is bo Van der Merwe gekies en kry teen die Stormers die taak om die Lions-lynstane te red.
De Villiers se kontrak by die Vrystaat-Cheetahs is aan die einde van 2010 nie verleng nie en die Lions het dié 30-jarige juis oor sy lynstaan-talente opgeraap.
Jacobie Adriaanse kry as vaskopstut ook sy eerste kans in die beginspan.
Volgens Mitchell is Francis as losskakel nou gereed om sy staal te toon nadat hy drie volle wedstryde in die Vodacombeker-reeks voltooi het.
“Burton is op dié tydstip die speler wat ons wedstrydplan die beste oral op die veld sal kan uitvoer,” het hy oor die skuif gesê.
Jantjies, wie se selfvertroue algaande die seisoen agteruitgegaan het, is steeds ’n plaasvervanger.
André Pretorius, Josh Strauss, Derick Minnie en James Kamana is weens beserings buite aksie.
Ná hul dyspierbeserings is Wikus van Heerden en Michael Killian weer perdfris en onderskeidelik as slot en heelagter ingespan.
Mitchell het gesê dit is belangrik om kop te hou, selfs al het sy span teleurgestel deur sewe uit agt wedstryde sover te verloor.
“Daar is nie iets soos desperaatheid hier nie. Ons moet kalm bly en mense moet hul aanspreeklikheid begin begryp.”
* Die Lions-span is: Michael Killian, Lionel Mapoe, Waylon Murray, Doppies la Grange (k), Deon van Rensburg, Burton Francis, Jano Vermaak, Warren Whiteley, Michael Rhodes, Cobus Grobbelaar, David de Villiers, Wikus van Heerden, Jacobie Adriaanse, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg.
Plaasvervangers: Martin Bezuidenhout, Patric Cilliers, Franco van der Merwe, Dries van Schalkwyk, Rory Kockott, Elton Jantjies, Jaco Taute.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24