Eindstryd tussen geteisterdes ‘gepas’
2011-07-06 09:11
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Brisbane. – Die Reds se span sal so te sê op volle sterkte vir Saterdag se Super Rugby-eindstryd teen die Crusaders wees.
’n Sege van 30-13 in die halfeindstryd oor die Blues het aan die Reds ’n plek in die eindstryd hier besorg – en boonop het die Australiërs geen beserings opgedoen nie.
Hoewel Radike Samo net voor die rustyd weens ’n harde stamp teen sy kop vervang is, sal die agtsteman gereed wees om die Crusaders te pak.
Die vleuel Luke Morahan (dyspier), wat nie teen die Blues oorweeg kon word nie, is ook weer fiks.
“Albei spanne gaan baie vasbeslote wees,” het die Reds-breier, Ewen McKenzie, gesê.
Hy het verwys na die aardbewings wat Christchurch vanjaar geskud het, asook die vloed wat die Reds se tuisstad, Brisbane, vroeg in die jaar getref het.
“Die Crusaders se pyn en lyding duur voort (in Christchurch).
“Ons is oor die ergste van óns ramp, hoewel heelwat herstelwerk nog gedoen word. Dis ironies, maar goed dat óns twee spanne swaarde kruis.”
Dié spanne se laaste ontmoeting was ’n ware kragstryd, met die Reds wat danksy ’n strafdoel deur Quade Cooper in die laaste minuut met 17-16 voor ’n rekordskare van 48 301 hier gewen het.
McKenzie glo nie dié uitslag, en die Reds se sege oor die Crusaders in 2010, maak van die Nieu-Seelanders makliker teenstanders nie.
“Hulle is waarskynlik gepla oor die laaste twee uitslae hier teen ons in die Suncorp-stadion,” het McKenzie, wat voorheen as afrigter van die Waratahs twee keer in uitklopstryde teen die Crusaders verloor het, gesê.
“Die Crusaders is genadeloos en ons het dít teen die Stormers gesien.
“Dit was ’n genadelose vertoning. Hulle is ’n span vir groot wedstryde – hulle het briljant gespeel.
“Hulle het hul aanloop (tot die eindstryd) uitstekend bereken en dit gaan ’n groot geleentheid wees.
“ ’n Mens kan sit en hoop hulle het ’n afdag, maar jy moet hulle op hul beste kan klop en dís die uitdaging waarna ons uitsien.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– AAP