Druk op Jonker – Drotské
2011-06-15 07:07
In-diepte Verslae
Die Springbok-flank Jacques Potgieter is van sy kontrak met die Bulls vrygestel en sal binnekort vir 'n groot klub in Brittanje uitdraf.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Bloemfontein – Die druk is op die fluitjieblaser Marius Jonker om Saterdag hier in die Vrystaat-stadion te wys hy kan weer ’n goeie vertoning lewer.
Só sê Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, nadat Jonker Dinsdag deur Sanzar, die beheerliggaam van die Super Rugbyreeks, vir sy span se wedstryd teen die Stormers aangestel is.
Die einste Jonker was sowat twee weke gelede in die pekel oor ’n aantal beslissings wat hy in die Cheetahs se nederlaag van 18-23 hier teen die Sharks gemaak het.
Drotské het nie ’n probleem dat Jonker wéér blaas in ’n stryd waarin sy span speel nie, en is voor die bekendmaking van die Stormers-stryd se skeidsregter deur André Watson, Suid-Afrika se skeidsregterbaas, oor Jonker se nuutste aanstelling gepols.
Drotské het ná die Sharks-wedstryd sy ontevredenheid met Jonker en sy assistente, Cobus Wessels en Jonathan Kaplan, uitgespreek en meen die Sharks kon nóg vyf geelkaarte gekry het. Ook Watson het toegegee foute is gemaak.
Volgens Drotské is hy tevrede met die kommunikasie wat hy, Jonker en Watson ná die Cheetahs se Sharks-nederlaag gehad het en het Jonker Saterdag ’n kans om hom te bewys.
“Die lug is beslis gesuiwer ná ons vorige wedstryd teen die Sharks waarin Marius Jonker geblaas het.
“Ek het goeie gesprekke met Marius en André Watson daarna gehad.
“Ons besef Marius kan nes enige rugbyspeler ook ’n afdag hê en hy het een in die Sharks-wedstryd gehad. Die druk is op hom om te wys hy kan weer ’n goeie wedstryd hê.”
Volgens die breier was hy en Watson wéér in verbinding.
“Watson het my gevra wat my gevoel oor sy aanstelling is. Marius Jonker was lankal vir ons wedstryd teen die Stormers aangestel. Ek het gesê ek het nie ’n probleem daarmee nie. Dit pla my nie juis nie. Die druk is nou op hom ná sy vorige wedstryd hier.”
Buiten Jonker se aanstelling, sal Pro Legoete boonop een van sy assistente wees. Stefan Breytenbach is die ander grensregter.
Legoete was onlangs in die sop nadat hy die Waratahs se plaasvervanger-slot Pat O’Connor verkeerdelik vir ’n kopstamp, en gevolglike rooikaart, teen die Bulls uitgewys het.
Jonker sou volgens Sanzar se program verlede naweek se kragmeting tussen die Sharks en die Lions behartig het, maar is deur Mark Lawrence vervang. Jonker was toe ’n assistent-skeidsregter vir die wedstryd tussen die Stormers en die Bulls.
Jonker het ná die wedstryde gesê dit was ’n fout van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie om sy naam as skeidsregter vir die Sharks-wedstryd in Johannesburg aan te dui. Volgens hom is ’n skuif ook nie gemaak oor sy vertoning die vorige naweek hier in die Cheetahs se nederlaag teen die Sharks nie.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg