Druk nou op Bulls, meen Plumtree
2011-05-18 07:22
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Sy visier is op die Stormers ingestel, maar in dieselfde asem sal John Plumtree, die Sharks se afrigter, oor sy skouer loer na die Bulls, wie se stormloop hy gewis agter hom kan hoor.
“Dié fase van die Super Rugby-reeks is baie fel.
“Sake is wawyd oop en daar is min spanne wat in hierdie stadium heeltemal uit die wedloop is,” sê Plumtree.
“Almal weet nou waar hulle staan en wat in die laaste vyf weke gedoen moet word ten einde die uitspeelstryde te haal.
“Veral vir ons sal dit nie maklik wees nie.
“Ons laaste drie wedstryde teen die Cheetahs, Lions en Bulls is weg van die huis af.
“Ons wil egter die druk op die Stormers hou en daarom is dit belangrik om Saterdag met die Bulls af te reken.
“Die Bulls is ’n span van gehalte en wanneer die druk op hulle is, weet hulle hoe om te reageer.
“Die druk is beslis nou op hulle, want hulle weet hulle moet feitlik al hul wedstryde wen.
“Daarom kan ons ’n geweldige aanslag van hulle verwag.
“Dit is moeilik om hul vertoning teen die Rebels te beoordeel, want die Rebels was só swak.
“Tog is dit duidelik dat die Bulls hul selfvertroue herwin het en dit maak hulle gevaarlik.”
Die Sharks, met 43 punte, is een ligapunt agter die Stormers (44) en sewe voor die Bulls (36).
“Dis glad nie ’n maklike reeks nie. Dis fisiek en veeleisend, maar juis daarom is dit wonderlik.
“Jy word elke week aan ’n fel toets op elke vlak onderwerp. Hoe langer dit aanhou, hoe feller raak dit en elke span se diepte sal in die laaste maand kwaai getoets word,” meen Plumtree.
Twee van sy voorspelers, John Smit en Jacques Botes, sal môre fiksheidstoetse moet aflê voordat hulle vir die stryd teen die Bulls op Kingspark oorweeg kan word.
Plumtree sê die o.20-agtsteman Marcell Coetzee is steeds deel van die opset en behoort gewis in die 22-tal te wees.
As Botes nie fiks verklaar word nie, kan Coetzee hom in die beginspan bevind.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24