Drotské sê hý het Goose laat uitskop
2012-03-26 09:59
In-diepte Verslae
Die Bok-stut Tendai "Beast" Mtwarira is terug vir die Sharks se Super-stryd teen die Bulls, nadat hy lank op die kantlyn was weens 'n besering.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Bloemfontein – Die Cheetahs se jong losskakel Johan Goosen was nie die kluts kwyt toe hy die bal Saterdag in die doodsnikke van sy span se Crusaders-nederlaag uitgeskop het nie.
Die 19-jarige generaal het bloot ’n opdrag van Naka Drotské, sy afrigter, uitgevoer om met ’n bonuspunt-nederlaag van 21-28 in Christchurch tevrede te wees.
Volgens Drotské kon sy span nie meer die Super-rugbykragmeting wen nie en was die risiko te groot om net vir een ekstra ligapunt van naby sy eie doellyn aan te val.
Die besoekers het boonop verreweg hul beste vertoning nog in Christchurch gelewer. Hulle het in 2006 met 36 punte, in 2008 met 48 punte en in 2010 met 39 punte teen die ’Saders daar vasgeval.
Goosen, wat goed gespeel en 16 van sy span se 21 punte aangeteken het, het onverwags teen die einde van die stryd die kollig om verkeerde redes gesteel. Hy het die bal nonchalant vanuit sy eie kwartgebied uitgeskop om sy spanmaats en die Nieu-Seelandse kommentators sprakeloos te laat.
Die Goose het hoeka vroeër in die stryd ’n ongelooflike Cheetah-drie afgerond toe sy span uit sy eie kwartgebied begin hardloop het.
Boonop het die besoekers die vorige naweek in die doodsnikke van hul Rebels-kragmeting, met die telling 26 elk, 16 fases opgesit om ’n wendrie te druk en met 33-26 te seëvier.
Maar Drotské meen dit was ’n ander situasie teen die ’Saders.
“Dit was ’n opdrag van my kant af om die bal uit te skop.
“As ons nog die wedstryd kon wen, soos teen die Rebels, was dit ’n ander saak. Maar ons kon net gelykop speel as ons ’n verdoelde drie behaal en daarmee net nog een ligapunt verseker,” het Drotské Sondag uit Queenstown, waar sy span vandeesweek vir sy laaste toerwedstryd teen die Hurricanes slyp, gesê.
Die Cheetahs was reeds seker van ’n bonuspunt-nederlaag en wou dit nie prysgee nie, verduidelik hy.
“In verlede jaar se Curriebeker-reeks het een ligapunt ons verhinder om in ’n tuis-halfeindstryd te speel.
“Dus het ons eerder Saterdag die een ligapunt gevat. Baie spanne sou ’n bonuspunt in Christchurch vat.
“Ek het gevoel dis nie die moeite werd om uit ons eie kwartgebied vir nog ’n ligapunt te gaan nie. Die risiko was te groot en die Crusaders kon die bal wen en druk – dan was ons ’n bonuspunt kwyt.
“As ons dalk op ’n ander plek op die veld was, het ons daarvoor gegaan.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24