Drieë op spyskaart in dié kragmeting
2011-04-20 08:31
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Lions is dalk nog nie gereed om die bestes in die Super Rugby-reeks te klop nie, maar Saterdag se wedstryd op Coca-Colapark teen die Chiefs is een van hul heel beste kanse vanjaar om nog ’n oorwinning op hul kerfstok te kry.
Terwyl die Lions aan die voet van die Suid-Afrikaanse afdeling se puntelys is, deel die Chiefs dié klad, aangesien hulle laaste onder die Nieu-Seelandse spanne gesetel is.
Die Chiefs het nog net twee van hul agt wedstryde vanjaar gewen en was ’n maand laas aan die wenkant, toe hulle met die Sharks in Hamilton afgereken het.
Wat die Chiefs wél het, is ’n spul giftige agterspelers wat verdedigingslinies kan verskeur as hulle die dag lus het.
Wedstryde tussen die Lions en die Chiefs lewer gewoonlik ’n drieëfees op.
Daarvan is daar vanjaar weinig gesien – en selfs die Lions se 16 drieë in die reeks is meer as die Chiefs (15) s’n.
Tog sal min vergeet watter benadering die Chiefs verlede jaar gevolg het om die Lions op Coca-Colapark te troef.
Die Chiefs het van oral aangeval en was bereid om drieë prys te gee, aangesien hulle eenvoudig geglo het hulle sal meer drieë van hul eie druk.
Die gevolg was ’n Chiefs-sege van 72-65, met die Chiefs wat nege drieë gedruk het.
Tog het dié span groot geskrik, want die Lions het nege drieë gedruk nadat die tuisspan op tydstip nog met 25-65 agter was.
Dit kan interessant wees om te sien of die Chiefs-breier, Ian Foster, ’n soortgelyke plan vir Saterdag se wedstryd het, aangesien onvoorspelbaarheid en aanvallende rugby sy span se sterkpunte is.
Sy span kan dit moeilik vind as hy die Lions voorlangs wil probeer uitoorlê.
Die Chiefs-voorspelers het in hul laaste wedstryd teen die Crusaders les opgesê – en daarteenoor het die Lions die Stormers die afgelope naweek laat sweet.
Die Chiefs het gister ’n terugslag beleef toe die voormalige All Black-senter Tana Umaga van Johannesburg na Nieu-Seeland moes terugkeer omdat hy sy kuit in ’n oefening beseer het.
Dwayne Sweeney en Richard Kahui was nietemin die gunstelinge om as senterpaar teen die Lions te begin, met Kahui wat verlede week ’n paar groot plettervatte teen die Crusaders uitgevoer het.
Die einste Kahui het in verlede jaar se kragmeting ’n driekuns aan drieë behaal.
- Wat die Lions betref, behoort Lionel Mapoe (vleuel), André Pretorius (senter) en Josh Strauss (flank) genoegsaam van hul beserings te herstel om vir dié wedstryd oorweeg te word.
Maar die heelagter Jaco Taute en stut Jacobie Adriaanse sukkel nou met ligte beserings.
John Mitchell, die Lions se afrigter, sal nie te veel aan sy span wat soveel beter teen die Stormers gespeel het, wil verander nie.
Dit was ’n span wat as ’n eenheid sterk vertoon het en veel meer verdedigingshonger het as die Lions wat verlede jaar 72 punte teen die Chiefs gelek het.
Drieëfees
Só het die Lions en die Chiefs die afgelope vier jaar teen mekaar gevaar:
2010 (Johannesburg): Chiefs 72 (9 drieë), Lions 65 (9 drieë).
2009 (Hamilton): Chiefs 36 (5 drieë), Lions 29 (4 drieë).
2008 (Johannesburg): Lions 33 (3 drieë), Chiefs 27 (3 drieë).
2007 (Hamilton): Chiefs 34 (5 drieë), Lions 7 (1 drie).
- Sport24
- Volg Nuus24Sport op Twitter.