Drie disse op Lions se oefenspyskaart
2011-11-25 08:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Die Stormers, die Sharks en die Kings is aanstaande jaar eerste op die spyskaart vir die Lions wanneer hulle vir die Super-reeks voorberei.
’n Vergrote Lions-oefengroep het Donderdag by die Johannesburg-stadion saamgetrek om met fiksheid en algemene kondisioneringswerk ter voorbereiding vir die 2012-seisoen te begin.
Dit is skaars meer as drie weke sedert die Goue Leeus die Curriebeker onder Josh Strauss se leiding op Coca-Colapark gewen het.
Hul kragmetings met die Stormers (27 Januarie) en die Sharks (31 Januarie) in aanstaande jaar se Neo Africa-reeks in die Kaap word gevolg deur hul wedstryd teen die Kings wat op 14 Februarie in George gespeel word.
Daarna wil die afrigter, John Mitchell, hê die Lions moet geslyp wees om die sukses van die Leeus in die Curriebeker-reeks na die Super-reeks oor te dra.
Soos sake nou staan, gaan beserings geen Lions-speler van die veld af hou wanneer die nuwe seisoen begin nie, hoewel hulle nog die strawwe buite-seisoen moet “oorleef”.
Die stut CJ van der Linde het pas ’n liesoperasie ondergaan, maar dit gaan hom nie uit aksie hou nie. Boonop sal spelers soos Waylon Murray en Lionel Mapoe, wat in die Curriebeker-reeks beseer is, ook betyds vir die nuwe seisoen herstel.
Hulle is deel van die oefengroep wat tot die 16de Desember saam met die Lions se genadelose kondisioneringsbreier, Wayne Taylor, gaan sweet.
Daarna sal die Leeus vir die feestyd wegbreek en weer in Januarie byeenkom.
Verskeie aanwinste, insluitend die broers Ross en Guy Cronjé van die Haaie en die Griekwas-slot Hendrik Roodt, het gister saam met hul nuwe spanmaats geoefen.
Die Lions se Springbokke – Van der Linde, Bandise Maku, Wikus van Heerden, Elton Jantjies, Butch James en Murray – was ook almal gister op hul pos.
Van die spelers wat van hul kontrakte vrygestel is en nie meer deel van die groep is nie, is Burton Francis, George Earle, Tonderai Chavhanga, Dusty Noble, David de Villiers, JP Joubert, Pieter Engelbrecht, Marius Delport en David Bulbring.
Francis, wat die Blou Bulle verlede jaar vir die Leeus verruil het, probeer om vir hom ’n plek as losskakel in die Stormers se oefengroep oop te speel.
Die Lions het reeds losskakels soos Elton Jantjies en Butch James.
Die Pumas-voorspelers Doppies le Roux en Marius Coetzer oefen ook saam met die Lions-streekspan.
- Intussen sal die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) binnekort op sy jaarvergadering besluit of en wanneer hy sy vakante pos van uitvoerende hoof gaan adverteer.
Ruben Moggee, ’n voormalige geoktrooieerde rekenmeester van KPMG en ’n oud-leerling van Grey-kollege in Bloemfontein, neem as uitvoerende hoof waar en is ’n sterk kandidaat om voltyds in die pos aangestel te word.
Die aanstellingsproses kan egter nog ’n wyle duur.
Manie Reyneke het onlangs die tuig as uitvoerende hoof van die GLRU neergelê.
Die unie het onlangs met ingrypende aksie begin om sy personeel te herstruktureer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24