Dit was super, Stormers!
2011-05-21 07:45
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Een van die beste seges in sy loopbaan as afrigter, een van die beste terugveg-oorwinnings deur ’n Stormers-span en die beste 40 minute wat hy in ’n lang tyd gesien het!
Só het die Stormers-breier, Allister Coetzee, Vrydag gesê ná die Kaapse span se merkwaardige vasbyt-sege oor die Blues.
Die Stormers was in dié Super Rugby-stryd in Auckland met rustyd met 3-19 agter, maar drie drieë binne 20 aksiebelaaide minute in die tweede helfte het die wedstryd op sy kop gekeer en die Stormers ’n sege van 28-26 besorg.
Dewaldt Duvenage, wat reeds in die eerste helfte uit posisie as plaasvervanger-losskakel vir die beseerde Lionel Cronjé opgestuur is, het met ’n doelskop geslaag om die wedstryd te beklink.
“Dit was die beste 40 minute wat ek in ’n lang tyd gesien het in ’n terugvegpoging deur ’n span,” het die verheugde Coetzee gesê oor die puik spel van sy span in die tweede helfte.
“Ek is in my skik met die karakter wat die jong spelers gewys het. Daar kon nie veel meer verkeerd gegaan het nie – ons het in die eerste helfte met ons lynstane gesukkel en foute begaan.
“Die span se deursettingsvermoë en karakter het deurgekom.”
Coetzee het toegegee dié sege is besonder soet en een van die bevredigendste in sy loopbaan as Stormers-breier. “Ek skryf dié een baie hoog aan, veral as in aanmerking geneem word dat dit in Auckland was. Dis nooit maklik hier nie en was teen ’n sterk Blues-span, met Jerome Kaino (All Black-flank) wat terug ná sy besering was.”
Wat het Coetzee rustyd vir sy span gesê toe dit na ’n verlore saak gelyk het? “Daar was harde woorde deur my en Schalk (Burger). Ons het mekaar in die oë gekyk en was eerlik met mekaar.
“Ek ken die vermoë van die span en weet wat hulle (die spelers) kan vermag. Dit het voor rustyd ook begin lyk of die Blues hul voorsprong wou beskerm.”
Die Stormers se plan vir die tweede helfte was om die bal te hou en die Blues te dwing om meer duikslae uit te voer. Coetzee het gesê hy het die feit dat sy span min kans in mediakringe gegun is om die Blues te klop, ook as motivering vir sy spelers gebruik.
Die feit dat daar vir hom gelag is toe hy aan rugbyskrywers gesê het dat Duvenage as losskakel sal instaan as Lionel Cronjé seerkry – iets wat wel gebeur het – en ’n beskrywing van sy span as “gelap” is alles gebruik om die Stormers te motiveer.
“Dewaldt het ’n goeie skopvoet en aangee op die aanval. Hy het beslis nie teleurgestel nie.”
Coetzee het sy spelers ook aangemoedig om op die volgende taak te fokus en nie oor brouwerk vroeër in die wedstryd bekommerd te wees nie.
“Conrad Jantjes het voor ons dryf-drie die bal vyf meter voor die Blues se doellyn uitgeskop ná sy swak skop veld-af in die eerste helfte (wat tot ’n drie vir die Blues aanleiding gegee het),” het Coetzee gesê.
Met dié sege het die Stormers seker gemaak dat hulle die naweek as voorlopers in die Suid-Afrikaanse groep afsluit.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24