D-dag vir Cheetahs
2012-01-27 10:11
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Die Cheetahs veg verbete vir die behoud van hul Superrugby-bedryfsreg wat in 2006 gesamentlik aan die unies van die Vrystaat, Griekwas en die Griffons toegeken is.
Dit word verwag dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) reeds Vrydag in Kaapstad ná ’n vergadering van sy algemene raad bekend sal maak watter die huidige spanne – die Sharks, Cheetahs, Bulls, Lions en Stormers – nog vanaf 2013 aan die Super-reeks sal deelneem.
Saru sal op dieselfde nuuskonferensie amptelik aankondig dat Heyneke Meyer die nuwe Springbok-afrigter is.
Alles dui daarop dat Saru een van sy vyf Super-bedryfsregte van 2013 aan die Southern Kings wil toeken en dat veral die Cheetahs en die Lions s’n in die gedrang is.
Geen maklike besluit wag op Saru nie, aangesien dit lankal reeds ’n sensitiewe saak is en al die streekspanne tot die bitter einde sal veg om hul bedryfsregte te behou.
Die spanne waaruit die Kings in 2013 moet kies, se vertonings in 2011 het ook nie ’n bedryfsreg op meriete geregverdig nie. Die Grens-Bulhonde en Suid-Westelike-Distrikte was wisselvallig in die Eerste Liga van die Curriebeker, terwyl die Oostelike Provinsie-Kings ’n behoorlike loesing teen die Boland-Kavaliers in die eindstryd gekry het.
Volksblad verneem egter daar is tans nog verskeie voorstelle op die tafel en al beplan Saru om vandag ’n aankondiging daaroor te doen, sal ’n finale besluit eers later geneem kan word.
Van die voorstelle op die tafel sluit glo die volgende in:
• Die Cheetahs kan voorstel dat die Lions se bedryfsreg in die slag moet bly en dat die Curriebeker-kampioen met die Bulle moet saamsmelt.
Die Lions se huidige geldprobleme en binnegevegte met hul vennote, die Luiperds en die Pumas, kan teen hulle tel.
• Sommiges meen die Cheetahs en die Lions moet weer soos vroeër saam ’n bedryfsreg vorm. Maar dieselfde logistieke probleme wat voorheen verhinder het dat só ’n streekspan suksesvol is, kan dié voorstel weer plettervat.
• Saru kan selfs vandag aan al sy huidige bedryfsregte sê dat die span wat vanjaar die swakste in die Super-reeks vaar, aan die einde van 2012 plek vir die Kings moet maak.
• ’n Tikkie goeie nuus vir die sentrale streek is dat Saru een van die twee weekdagwedstryde waarin Engeland in Junie sal speel, aan Kimberley toegeken het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24