Crusaders se ‘volle mag’ wag op Sharks
2011-03-22 09:25
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - “Ons gaan die Sharks tref met alles wat ons het,” het Todd Blackadder, die Crusaders-afrigter, die Durbaniete gewaarsku voordat sy span uit Christchurch vertrek het vir Sondag se geskiedkundige Super Rugby-wedstryd op Twickenham in Londen.
Hy het dit ook baie duidelik aan sy spelers gemaak dat dit allesbehalwe ’n besigtigingstoer vir hulle gaan wees.
“Die enigste manier hoe ons hierdie as ’n suksesvolle reis kan beskou, is as ons sukses op die veld behaal.”
Ongekende belangstelling heers in Londen vir dié stryd, die eerste keer dat ’n Super Rugby-wedstryd in die Noordelike Halfrond gespeel word.
Van die 55 000 kaartjies wat beskikbaar gestel is, is 25 000 glo reeds verkoop. Volgens Hamish Riach, die uitvoerende hoof van die Crusaders, sal die Engelse Rugbyunie (RFU) en die Londense stadsraad versoek word om dalk meer sitplekke beskikbaar te stel indien die meeste kaartjies reeds vroeg in die week uitverkoop is.
Instandhoudingswerk aan die spoornetwerk wat sake vir toeskouers kan bemoeilik om by Twickenham uit te kom, word as rede aangevoer vir die feit dat meer kaartjies nie beskikbaar gestel is nie.
Vir die Crusaders moet hierdie hul groot betaaldag van die seisoen wees nadat hul tuisveld in Christchurch deur die onlangse aardbewing beskadig is en glad nie in dié reeks gebruik kan word nie.
Hulle moet nou hul seisoenkaartjiehouers terugbetaal en dit gaan hulle heelwat kos. Hulle moet ook ’n bedrag aan die RFU en die Sharks betaal en boonop sal van die inkomste aan die fonds vir aardbewing-slagoffers gaan.
Kaartjiepryse wissel van sowat R360 tot R610 en die wedstryd word ook beskou as ’n gulde geleentheid om Super Rugby in Brittanje te bemark.
Blackadder het net voor sy span se vertrek aan The Press gesê: “Dit is ’n groot eer én opwindend om deel van die rugbygeskiedenis te wees.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24