Crusaders en die Waratahs waarsku SA spanne
2010-05-16 23:31
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die rugbyspanne van die Crusaders en die Waratahs het Vrydag net betyds vlamgevat om hul plekke in vanjaar se Super14 se halfeindronde te bespreek – klinkend genoeg dat hul teenstanders nie volgende naweek se afspraak sal onderskat nie.
Hulle sal die naweek teen onderskeidelik die Bulls en die Stormers te staan kom.
Die Waratahs, wat ’n teleurstellende seisoen beleef het en selde kon oortuig, was in Sydney maklik met 32-16 baas teen die Hurricanes, wat ook moes wen om hul aanspraak lewend te hou.
Dit was ongetwyfeld die Nieu-Suid-Walliesers se beste vertoning van die kompetisie en hul meerderwaardigheid was vroeg reeds duidelik.
Die tuisspan het in blommetjies-truie uitgedraf wat die Western Stormers se 1998-poging ewenaar as die liederlikste tot nog toe in Super-rugby, maar dit was die enigste onooglikheid aan hul vertoning.
Hoewel die Waratahs sonder hul ysterman Benn Robinson moes klaarkom, het hulle hul oorwinning reeds in die skrums begin beklink en die besoekers het in die faset les opgesê.
Die Waratahs kon van die platform af ordentlike momentum kry en hul gevaarlike snellers het ’n slag kans gekry om te wys wat in hulle steek. Kurtley Beale, wat nou eers mondig is, kan nog ’n doring in ons vlees raak.
Beale het ’n bietjie lyf gekry sedert hy bloedjonk op die toneel gekom het en is ’n sprekende toonbeeld van watter talent verlore kan gaan as keurders grootte eerder as vernuf raaksien en soek.
Hy en die vleuel Drew Mitchell het albei tweekunste behaal en was die keur in ’n goeie poging van die Waratahs.
Die Hurricanes kom, helaas, net in twee geure: skitterend of stink.
Vrydag was ’n stink dag en hul wipplank-seisoen is verby, terwyl dit lyk asof die Waratahs hul beste vorm op net die regte tyd herwin het.
In Christchurch het die Crusaders hul 12de halfeindronde in 13 jaar se Super-rugby gehaal toe hulle ’n geestige Brumbie-span met 40-22 afgestof het met ’n skitterende algemene vertoning.
Die Brumbies, wat met ’n oorwinning na die halfeindronde sou deurdring, het nooit gaan lê nie, maar was eindelik magteloos teen die aanslag van die sewemalige kampioene.
Die Crusaders het goed geskrum, die breekpunt goed aangeval en gepatrolleer, maar bowenal so hard verdedig dat hulle menige bal in die proses kon buit.
Dit was genadelose rugby soos ’n mens van die Crusaders gewoond geraak het oor die jare, maar ook aanskoulik – Sean Maitland se drie, nadat die bal skitterend gehanteer is vanaf ’n kraglopie deur Zac Guildford, was waarskynlik een van die bestes van die toernooi.
Guildford was rooiwarm, maar die Crusaders se vertoning was ’n totale spanpoging – ene wat sal verseker dat die Bulls hulle nie ligtelik sal opneem nie.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.