Craig in kol, sê Watson
2010-06-01 08:59
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Craig Joubert het die Stormers nie “gekul” nie en was konsekwent met die manier waarop hy die Bulls én die Stormers by die afbreekpunte in Saterdag se Super14-eindstryd beoordeel het.
Die Stormers se kaptein, Schalk Burger, en hul afrigter, Allister Coetzee, was ná die wedstryd omgekrap oor Joubert se toepassing van die reëls by die afbreekpunte. Albei het die stelling gemaak dat die Bulls “afgerig” en die Stormers “gestraf” is.
Hierdie stelling is egter Maandag met feite deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se hoof van skeidsregters, André Watson, as verkeerd bewys.
Watson se departement het gisteroggend elke doodvat-situasie met die hulp van die TV-opname van die eindstryd ontleed.
“Daar was 167 doodvat-situasies. Die Stormers het die bal 85 keer gedra en die Bulls 82 keer. Die strafskoptelling by die afbreekpunte was 7–6 in die Stormers se guns,” het Watson gister aan Sport24 gesê.
“Craig het by 25 geleenthede met die Stormers gepraat toe die Bulls die bal gedra het. Dit was deur byvoorbeeld te sê ‘22, let it go’, ‘roll away 7’ en ‘on your feet number 2’.
Hy het 28 keer met die Bulls gepraat in die 85 keer wat die Stormers die bal gedra het.
“Hy het dus 31% van die kere met wit (die Stormers) gepraat en 33% van die kere met blou (die Bulls). Dis baie konsekwent.”
Die Stormers wou rustyd met Joubert oor sy toepassing van die reëls praat, maar dit word nie toegelaat nie.
Wat die verskil van helfte tot helfte betref, het die Stormers die bal 46 keer in die tweede helfte gedra en is daar 18 keer (39%) met die Bulls gepraat. Die Bulls het op hul beurt die bal 32 keer ná rustyd gedra en daar is 15 keer (47%) met die Stormers gepraat.”
“Dis die feite,” het Watson gesê.
’n Moontlike fout wat Joubert gemaak het, was met die toekenning van Bryan Habana se drie.
“Nommer 22 wit (Tim Whitehead) het van die kant af ingekom en dit moes eintlik ’n strafskop aan blou gewees het,” het Watson gesê.
Hy het bygevoeg dat Joubert in die kol was met sy toepassing van die “daglig”-reël nadat Francois Hougaard Gio Aplon gelak het.
“Die voorval het op 47 minute en 30 sekondes gebeur en Hougaard wys absoluut daglig. Craig was 100% korrek met sy beslissing.”
Volgens Watson was daar ook ’n geleentheid waar die Bulls-flank Deon Stegmann gestraf moes gewees het omdat hy die bal onwettig gesteel het.
“Ons praat oor twee of drie voorvalle in 167 situasies. Kom ons gaan aan met ons lewens!”
Joubert het intussen in sy reaksie gesê dat hy nie kommentaar oor die Stormers se stellings wil lewer nie.
“Ek wil myself uit die situasie neem en mense toelaat om hul eie gevolgtrekkings te maak,” het Joubert gesê.
Hy beplan om later vandeesweek met die Westelike Provinsie se direkteur van afrigting, Rassie Erasmus, en die Stormers se afrigtingspan te praat.
Joubert het die eindstryd baie geniet. “Dit was alles wat ek voor gehoop en verwag het dit sou wees. Ek het geweet dit gaan ’n brutale wedstryd wees. Ek het na die halfeindstryd gekyk en geweet die atmosfeer gaan ongelooflik wees. Dit was baie uniek.”
Intussen het Saru ook gister bevestig dat die Stormers se tweede drie deur Pieter Louw, en nie Ricky Januarie nie, gedruk is.
“Dit het gelyk of Ricky die drie gedruk het, maar hy het die bal net voor die lyn geplaas. Pieter Louw het dit opgetel en gaan druk.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24