Coetzee verras met kragman
2010-02-19 09:45
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - ’n Vyftigste Super14-rugbywedstryd vir Peter Grant, ’n terugkeer na die beginspan vir Ricky Januarie én die verrassende insluiting van Eusebio Guinazu (’n Argentynse stut) op die plaasvervangersbank.
Dís die storie van die span wat die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, gister hier vir Saterdag se wedstryd teen die Waratahs op Nuweland aangekondig het.
Januarie vervang Dewaldt Duvenage in een van twee veranderings aan die beginspan wat die Lions met 26-13 verslaan het. Die ander een – JC Krizinger vir Wicus Blaauw as loskopstut – is weens ’n besering aan laasgenoemde.
Daar is verwag dat JD Moller op die bank sou wees, maar die Westelike Provinsie slyp nog aan sy vaardighede as vaskopstut en gaan hom waarskynlik die Vodacombeker-span se nr.3-trui laat dra.
“Guinazu het Argentinië al as vaskopstut verteenwoordig en het vir ons in opwarmwedstryde loskop gespeel. Hy is ’n logiese keuse,” sê Coetzee.
Ofskoon Duvenage volgens Coetzee nog die Stormers se nr.1-skrumskakel is, meen die breier dié wedstryd is die regte een om Januarie in los te laat. “Dis die soort wedstryd waarin ek graag Ricky se ervaring wil hê. Hy het al sy slag op internasionale vlak gewys. Sy verdediging kan baie belangrik vir ons wees.”
Januarie het verlede jaar kwaai met sy kondisionering en spelpeil gesukkel, en het sy plek by die WP aan Duvenage afgestaan.
Duvenage is nog bloedjonk, maar sal aan sy spel moet skaaf. Hy is voorspelbaar en hou nie genoeg van ’n aanvallende bedreiging vir teenstanders in nie. Januarie sal meer afwisseling bied.
Grant is ook onder druk om sy loopbaan opnuut rigting te gee. Hy het verlede jaar opgehou om pale toe te skop en daar is vroeër vanjaar uit die Stormers se kamp gesê dat hy dié seisoen as die eerste keuse as binnesenter sou begin.
Grant sal in sy 50ste wedstryd vir die Stormers in ’n belangrike tweestryd met die begaafde Wallaby-ster Berrick Barnes gewikkel wees.
- Beeld