Chiefs wil frustrasies op Sharks uithaal
2011-03-14 07:19
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Tien uit tien vir die Sharks.
John Plumtree, afrigter, se span het die eerste deel van sy Australasiese Super Rugby-toer voltooi en in die proses 10 ligapunte verdien, maar nou begin die moeilike deel.
Die twee wedstryde in Nieu-Seeland, teen die Chiefs en Crusaders sal meer veeleisend wees as wat dit die geval in Australië teen die Force en Rebels was.
Vrydag in Hamilton wag die Chiefs op die Sharks.
Nadat die manne van Waikato se omgewing Saterdag in Wellington net-net teen die Hurricanes vasgeval het, sal hulle oorgehaal wees om hul frustrasies op die Sharks uit te haal.
Die toer word Vrydag oor ’n week teen die Crusaders afgesluit, wat die afgelope twee weke gewys het hulle is die span wat hierdie seisoen dopgehou moet word.
Die wyse waarop hulle met die Waratahs en Brumbies klaargespeel het, beteken dit sal vir geen span ’n aangename vooruitsig wees om met hulle slaags te raak nie.
Nadat hulle nie ’n enkele drie in hul eerste drie wedstryde afgestaan het nie, sal Plumtree omgekrap wees oor die vier drieë wat sy span teen die Rebels afgestaan het.
Die verdediging in die middelveld was soms swak. Veral die wyse waarop Mark Gerrard, Stirling Mortlock en Danny Cipriani vir die Rebels se eerste drie drieë deurgesny het, sal Plumtree sy lat laat uitpluk.
Die Sharks kan hul onoorwonne vertoningslys in die reeks kwyt wees as hulle só teen die Chiefs verdedig.
Plumtree moet ook besluit of hy met die Springbok-kaptein, John Smit, wil volhard. Smit het nie eintlik teen die Rebels beïndruk nie. Dit was wel die eerste keer dié seisoen dat hy in die beginspan was.
Hy lyk nog nie fiks nie en sal vinnig in ’n hoër rat moet oorskakel, want daar wag twee uitdagende tuiswedstryde teen die Stormers en Lions.
Die karakter wat die Sharks in hul terugvegpoging teen die Rebels getoon het, sal Plumtree breed laat glimlag, asook die feit dat die beseringspook weggebly het.
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24