Cheetahs wil nie waag met Andries
2011-01-26 09:23
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein - Die Cheetahs-bestuurspan sal ’n week langer moet wag voordat hy sy Springbok-aanwins in aksie gaan sien.
Die Bok-senter Andries Strauss sukkel voor die Super Rugbyreeks met ’n seer lies en sal nie Vrydag hier in die Cheetahs se oefenstryde speel nie.
Strauss, waarskynlik die sentrale streekspan se grootste aanwins vir 2011, oefen die afgelope twee weke alleen en daar sal nie onnodig met hom gewaag word nie.
Die Cheetahs se A-span (Gladiators) sal die Shimlas Vrydagoggend in ’n kontaksessie aanvat, waarna die Gladiators die B-span (Barbarians) 20 minute pak én die Barbarians laastens ’n oefenwedstryd teen die Griffons speel.
Strauss is die gunsteling om die Cheetahs se nr. 12-trui te dra nadat hy in 2010 vir die Sharks uitgedraf het.
Dié senter en die heelagter Hennie Daniller (kuit) is volgens Hawies Fourie, agterlynafrigter van die Cheetahs, nie vir bogenoemde sessies beskikbaar nie, maar behoort vir 4 Februarie se oefenwedstryd teen die Southern Kings reg te wees.
Nog ’n eerstekeuse-speler, die stut WP Nel, sal ook nie Vrydag ingespan word nie. Nel het ’n dyspierbesering en kan selfs die Kings-kragmeting misloop.
“Hy sal vir die begin van die reeks reg wees, maar ons sal nie met hom teen die Kings waag as as hy nog nie 100% is nie,” sê Fourie.
Dié beserings krap Fourie-hulle se kaarte ’n bietjie deurmekaar, aangesien hulle graag al hul spelers hier in aksie sou wou sien.
Die scenario is ’n goeie oefenlopie vir ’n lang Super-reeks waarin verskeie staatmakers dikwels beserings opdoen.
Fourie sal uit senters soos Morgan Newman, Barry Geel en Corné Uys ’n plaasvervanger vir Strauss moet kies.
Robert Ebersohn en Wilmaure Louw is oorwegend buitesenters.
Nel se skoene behoort deur Kobus Calldo gevul te word, met die groentjie Marcel van der Merwe wat straks ook kans sal kry.
Daniller se besering kan die Cheetahs noop om die bekwame Riaan Viljoen as ’n Gladiator in te span en daarom kan Philip Burger, Riaan (True Blue) Smit of Fabian Juries ook in die Barbarians se laaste vesting ingespan word.
Die vleuel Philip Snyman sukkel met ’n seer dyspier en daar sal môre besluit word of hy in die oefenstryd mag speel.
Die losskakel Sias Ebersohn sal sowat 30 minute kan speel nadat hy van ’n liesoperasie herstel het. Die flank Frans Viljoen (haksening) behoort, as alles goed verloop, teen die Kings tot die spel terug te keer.
Die Bok-flank Heinrich Brüssow (knieligamente) sal volgens Fourie waarskynlik eers vir die vierde Super-wedstryd – teen die Lions – beskikbaar te wees.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24