Cheetahs voer Mapoe-plan in mou
2010-02-16 08:32
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
JÓHANN THORMÄHLEN
Bloemfontein - Die Blitsbok Lionel Mapoe kan straks Vrydagaand in Durban die Sharks se middelveld hoofbrekens besorg.
Mapoe is ’n sterk aanspraakmaker om die binnesenter Meyer Bosman se sentermaat vir die Cheetahs se tweede Super14-rugbykragmeting te wees, met Corné Uys wat minstens vier weke langs die kantlyn sal wees.
Uys het Vrydagaand hier sy enkelligamente teen die Bulls geskeur.
Hoewel die Cheetahs meer diepte as in die verlede het, sal dit nie verbaas nie as die Cheetahs se afrigtingspan vir Mapoe, wat eintlik vleuel speel, in Uys se plek inspan.
Dié blits kan die vonk, wat teen die Bulls afwesig was, in die middelveld verskaf en het in die voorseisoense voorbereiding reeds sy vuurdoop in dié posisie gekry.
Hy het onlangs teen die Oostelike Provinsie as buitesenter uitgehelp toe Uys in dié kragmeting ’n sny aan sy gesig opgedoen het.
Mapoe was hoeka teen die Bulls een van die span se uitblinkers en die Sharks se senters sal vanweë sy krag en bedrieglike vaart hul hande vol hê.
Hy het ook sy eerste drie in die Super14-reeks ná slegs ’n paar sekondes in sy debuutwedstryd gedruk.
As Mapoe in die middelveld inskuif, sal Danwel Demas waarskynlik as vleuel uitdraf.
Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Cheetahs, sê dis bitter sleg om in die eerste kragmeting ’n speler te verloor, maar hulle het genoeg diepte.
“Dis jammer dat Corné beseer is. Hy is ’n ou wat al baie in sy loopbaan deur beserings geteister is. Gelukkig het ons meer diepte in dié posisie as in die verlede. Dis natuurlik sleg om van jou eerstekeuse-spelers reeds in die eerste wedstryd te verloor, maar dis deel van die spel.”
Volgens Fourie word Mapoe, Barry Geel en Wilmaure Louw as Uys se plaasvervanger oorweeg.
Die Cheetahs se diepte op senter kry Vrydag ’n verdere hupstoot wanneer Robert Ebersohn ná ’n enkelbesering terugkeer.
Ebersohn behoort 20 minute in ’n opwarmwedstryd vir die Vrystaat se Vodacombeker-span teen ’n Sharks-vyftiental in Durban te speel.
Volgens Fourie mag Ebersohn op aanbeveling van die dokter net ’n paar minute speel en, as alles goed gaan, sal hy volgende week oorweeg word.
- Die Burger