Cheetahs speel met rukke en stote teen Griffons
2012-02-01 07:59
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Welkom. – Diepte, veral in die Cheetahs se agterlyn, is daar beslis.
Dit was waarskynlik die waardevolste openbaring vir die sentrale streekrugbyspan ná gister se oefenstryd hier teen die Griffons.
Die Cheetahs het met rukke en stote gespeel, maar uiteindelik ’n maklike sege van 38-7 behaal.
Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, sal nie tevrede wees met die manier waarop sy span die bal by die losgemale afgestaan het nie. Nes die besoekers iets belowends opgedis het, het die Perses die bal gegaps.
Bygesê dat die tuisspan ook lof vir sy werk op die grond moet kry. Sy afrigtingspan het hom dikwels vanuit die paviljoen hiervoor geprys.
Die Cheetahs se “B-span” het nie na ’n geoliede masjien gelyk nie, maar dit sal Drotské nie veel pla nie.
Die oefenstryd het immers meer daaroor gegaan om sy diepte te toets en te sien wie nog aanspraakmakers vir ’n 22-tal in die Super-reeks is.
Een van dié spelers, Philip Snyman, het sy span se eerste drie gedruk. Dié senter het egter nie veel moeite gehad nie, aangesien die Cheetahs in die tiende minuut ’n lynstaan op die Griffons-doellyn afgeneem het en hy gaan druk het.
Die vleuel Rayno Benjamin het in die 19de minuut ’n drie netjies in die linkerhoekie afgerond nadat sy vleuelmaat Philip Burger in die Perses se kwartgebied in die agterlyn ingekom het.
Die Cheetahs het dikwels gevaarlik gelyk wanneer Riaan (True Blue) Smit vanaf heelagter by sy agterlyn aangesluit het, maar kon nie meer daarvan maak nie.
Die besoekers het ná rustyd, met die telling 19-0 in hul guns, met ’n nuwe senterpaar in Barry Geel en Matthew Rosslee uitgedraf. Dit nadat Snyman en die buitesenter Jean Stemmet albei in die eerste helfte gedruk het.
Hoewel die Perses se plaasvervanger-haker Derick van Heerden kort ná rustyd ’n geelkaart gekry het, kon die besoekers dit nie tot hul voordeel gebruik nie. Hulle het in dié tyd ’n drie in hul teenstanders se kwartgebied met ’n verbroude aangee weggegooi.
Die tuisspan is in die 55ste minuut vir ’n goeie vertoning beloon toe sy kaptein en senter, Werner Griesel, ná herhaalde druk oorgeduik het om die telling 19-7 te maak.
Nadat Drotské in die tweede helfte nog plaasvervangers opgestuur het, het sy span gesukkel om dieselfde peil as in die eerste helfte te handhaaf.
Twee drieë deur die losskakel Sias Ebersohn en een deur die plaasvervanger-haker Hercu Liebenberg teen die einde het die telbord beter laat lyk.
Puntemakers:
Cheetahs: 38 (19). Drieë: Philip Snyman, Rayno Benjamin, Jean Stemmet, Hercu Liebenberg, Sias Ebersohn (2). Doelskoppe: Sias Ebersohn (4).
Griffons: 7 (0). Drie: Werner Griesel. Doelskop: Tiaan van Wyk.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24