Butch moet vinnig regmaak
2011-05-08 18:33
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die aanvanklike plan was om hom in die tweede week op toer speelkans te gee nadat hy vaarwel gesê het aan sy Engelse klub Bath, maar Butch James sal nou slegs twee oefensessies deurmaak voordat hy in ‘n Lions-trui verskyn.
“Butch arriveer Woensdag en ons sien uit na ‘n losskakel wat spel kan dikteer,” het die Lions-afrigter, John Mitchell, gesê ná sy span se vernederende nederlaag van 53-19 teen die Cheetahs.
“Sy ervaring sal baie belangrik vir die span wees. Ek is nie seker of hy sal begin nie, maar hy sal in die 22-tal wees.”
Die Lions het Saterdag na Canberra vertrek op hul oorsese toer. Hul eerste wedstryd is Saterdag teen die Brumbies – moontlik hul beste kans om ‘n oorwinning op te raap op dié toer.
Hul ander drie wedstryde is teen die Waratahs, die Highlanders en die Hurricanes.
“Wanneer hy (James) daar aankom, sal ons een oefensessie en ‘n kapteinsessie hê. Hy is ervare genoeg om dinge redelik vinnig op te tel,” het Mitchell gesê.
Terwyl Mitchell nie heeltemal teleurgesteld was deur Burton Francis se vertoning teen die Vrystaters nie, het hy bygevoeg dat James die oplossing kan wees wat taktiese besluitneming betref.
Elton Jantjies het lank speelkans gekry aan die begin van die toernooi voordat Francis sy kans gekry het, maar die Lions-mentor is nie bekommerd dat nóg ‘n losskakel die reeds onstabiele Lions-karretjie sal laat ontspoor nie.
“Dit gaan daaroor om jou beste spelers in die groep te hê en hierdie is ‘n professionele spel,” het Mitchell gesê.
“Ons is daarop geregtig om spelers aan te koop en ons het Butch James gekoop, wat beter as die res is.
“Hy is ook meer ervare, maar sal sy reg om te begin van die plaasvervangerbank af moet verdien.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA