Butch gaan vlugmyle inryg vir Lions
2011-04-12 09:30
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Butch James kan oor vier weke sy buiging vir die Lions maak wanneer dié span se oorsese toer in die Super Rugby-reeks begin.
Soos sake nou vir die Lions staan, sal enige versterking verwelkom word en dit kan beteken dat dié Springbok-losskakel sommer gou in sy nuwe trui gesien kan word.
Die 32-jarige James sal hom na verwagting onmiddellik ná sy laaste rugbywedstryd van die Engelse seisoen na Johannesburg haas.
Dit lyk nie of sy klub Bath die halfeindronde van die Engelse Premierliga gaan haal nie, wat beteken dat sy ligaseisoen op 7 Mei eindig.
’n Week later begin die Lions se Super Rugby-toer in Australasië met ’n wedstryd in Canberra teen die Brumbies.
Die eise van sy reis tussen Bath, Johannesburg en Canberra kan veroorsaak dat James dalk nie uit die staanspoor op die toer losgelaat sal word nie.
Dan is daar ook die netelige kwessie van James se spelpeil.
Die losskakels, Elton Jantjies én André Pretorius, het Saterdag teen die Sharks swak vertoon agter ’n agttal in trurat, maar vir James het dit die laaste tyd nie veel beter by Bath verloop nie.
Sy vertoning in Bath se onlangse tuisnederlaag teen die Leicester Tigers is gekritiseer.
Dit was bowenal sy kenmerkende en onwettige skouerlope wat sy span duur te staan gekom het, want hy is ’n paar keer vir ongeoorloofde spel gestraf.
Vir die Lions raak die pad baie steil.
Hul nederlaag van 3-27 teen die Sharks was hul swakste vertoning van die jaar en selfs al ontken die spanbestuur dit, lyk dit of die Lions in hul eie vermoë begin twyfel.
Beserings het ook begin knaag en die heelagter, James Kamana, gaan weens sy gebreekte enkel drie maande lank buite aksie wees.
Kamana se reeks is verby en nog ’n heelagter, Michael Killian, het in die voorlaaste wedstryd ’n dyspier beseer.
Nou wag ’n kragmeting met die Stormers op Coca-Colapark.
John Mitchell, die Lions-afrigter, is een wat in bestendigheid in sy spankeuse glo, maar na die Sharks-fiasko kan daar verskeie veranderings wees.
Probleme in die skrums en lynstane is hoog op die die lys.
Die Lions is nie ’n span wat oorloop van ervaring nie, maar hy is tot veel beter in staat en verkeer onder druk om dit in die komende tuiswedstryde teen die Stormers, die Chiefs en die Cheetahs te wys.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24