Bulls-yster mis dalk mylpaal
2011-06-06 08:02
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria - Bakkies Botha het ’n kniebesering en sal dalk nie Saterdag in die Super Rugby-wedstryd teen die Stormers op Nuweland kan uitdraf nie.
Die Bulls-slot sal sy 100ste wedstryd vir die Bulls speel as hy wel Kaap toe reis, maar volgens sy slotmaat en kaptein, Victor Matfield, sukkel Botha met ’n seer knie.
“Bakkies het seer en ek weet nie of hy dit gaan maak nie,” het Matfield gesê nadat hy oor sy spanmaat se opkomende mylpaal gevra is.
Botha het Vrydagaand teen die Waratahs min las van die kniebesering getoon, maar Sport24 verneem dat dit ’n chroniese besering is en elke dan en wan opvlam.
Die Bulls se spandokter, Org Strauss, het laasgenoemde bevestig.
“Ja, dit is ’n ou besering, maar ek glo ons sal hom op die veld kan kry. Zane Kirchner en Gary Botha sukkel ook met ’n seer skouer en knie onderskeidelik, maar ek is vol vertroue dat hulle fiks sal wees.”
Botha sal, as hy wel Kaap toe reis, gemengde gevoelens oor sy 100ste wedstryd hê.
Hy was verlede jaar die kaptein toe die Bulls laas daar gespeel het en met ’n sogenaamde B-span die tuisspan gaan aandurf het.
Die Bulls het ’n goeie drag slae op die lyf geloop en Botha het homself baie ongewild gemaak toe hy Gio Aplon in ’n losskrum bygekom het.
Hy is uitgewys en geskors, wat beteken het dat hy nie die halfeindstryd en eindstryd van die Bulls se 2010-triomf kon meemaak nie.
Die Bulls sal beslis duim vashou dat die 32-jarige ysterman wel op die vliegtuig is.
Botha se spelpeil, seer knie ten spyt, word al hoe beter namate die seisoen vorder en hy speel tans kookwater-rugby.
Sy statistieke wys dat Botha, benewens sy goeie lynstaanspel en ondersteuning in die vastelos, ook sy kant bring met ongekeerde besit, heelwat veld wen as baldraer en veral deurslaggewende duikslae uitvoer.
Daar was altyd die gevaar dat Botha, ná sy dissiplinêre probleme in 2010, nie dieselfde faktor sou wees ten opsigte van sy robuuste spel nie, maar tot dusver het hy hom goed gedra.
Hy het wel in die vorige Stormers-wedstryd, op Loftus Versfeld, wéér in die visier van die uitwysingsbeampte, Freek Burger, gekom wat gemeen het sy duikslag op Dewaldt Duvenage van die Stormers was onwettig, maar die ou grote is onskuldig bevind.
Sy fisieke teenwoordigheid gaan belangrik wees teen die Stormers, wat vanjaar gewys het dat hulle met dubbellemmetjies skeer.
Die Kaapse span het selfs die kontaksituasie in sy vorige wedstryd gewen.
Die Bulls se pak speel egter die laaste paar weke uitstekend as ’n eenheid saam en het die Sharks en Cheetahs voorlangs oorweldig.
Teen die Waratahs, wat self ’n meneer van ’n pak het, was die Bulls ook stewig in beheer voordat onbetwiste skrums ’n grap van die wedstryd gemaak het.
Die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, het ná dié wedstryd gesê hy voel daar moet gekyk word na ’n ekstra stut op die plaasvervangersbank.
“Ons was beslis besig om beheer oor te neem en toe hulle tweede stut ook seerkry, het dit die momentum van ons weggeneem, want ons kon hulle nie daar verder oorheers nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24