Bulls weier om jammer te sê
2012-04-09 19:01
In-diepte Verslae
Die Cheetahs het twee veranderings gemaak aan die span wat die Southern Kings op die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth pak.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Pretoria – Die Bulls sal nie instem tot ‘n eis van die Crusaders-afrigter, Todd Blackadder, dat hulle om verskoning moet vra nadat geen bewyse van oogkrappery gevind is deur Sanzar se strafstelsel nie, het die Bulls se mediabestuurder, Ian Schwartz, Maandag gesê.
Blackadder het Saterdag ná die wedstryd in Pretoria gesê hy verwag ‘n verskoning van die Bulls – ‘n stelling wat hy aan die Nieu-Seelandse media herhaal het – indien die bewerings as vals bewys word.
Volgens Sanzar kon geen bewyse oor die kwessie gevind word in beskikbare videomateriaal nie.
Greg Peters, uitvoerende hoof van Sanzar, het gesê daar is geen bewyse om die bewerings te staaf nie, nadat dit deur die uitwysingskommissaris, Freek Burger, ondersoek is en die video-bewyse geen verdere optrede sou regverdig nie.
“Die Bulls stel nie daarin belang om in ‘n openbare twis met die Crusaders betrokke te raak nie, aangesien ons nog altyd die grootste respek vir hulle en ‘n baie hartlike verhouding met hulle het,” het Schwartz gesê.
Die Bulls staan by hul standpunt en die bewerings wat deur die spelers gemaak is.
“Die wette is duidelik en ons het hulle 100 persent korrek toegepas. Ons het die reg gehad om die kwessie met die skeidsregter op te haal en ons aanvaar die feit dat daar geen video-bewyse was nie.”
Hy het beklemtoon die Bulls-spelers se integriteit is bo verdenking.
“Ek wil net sê dat ons spelers se integriteit vir ons net so belangrik is soos die Crusaders-spelers se integriteit vir hulle is. Ek voel die spelers sal nie ongegronde beskuldigings maak tensy iets gebeur het nie.”
Geen verskoning sal uitgereik word nie.
“Vir hulle om voor te stel dat ons nou moet jammer sê, net omdat daar geen videomateriaal beskikbaar is nie, sal beteken ons het gelieg. Dit is belaglik om voor te stel dat die ander span om verskoning moet vra elke keer as daar ‘n uitwysing is en daar nie genoeg bewyse is nie. Dit is jammer dat hulle die kwessie deur die media opgehaal het, aangesien ons deure van kommunikasie met hulle nog altyd oop was vir ‘n direkte benadering. Ons sou die amptelike en gepaste kanale gevolg het.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter