Bulls tevrede met blaser
2010-05-26 10:49
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Craig Joubert sal Saterdag aan die stuur van sake wees wanneer die Bulls en Stormers mekaar in die Super14-eindstryd in Soweto pak.
Bulls-ondersteuners was nie baie gelukkig toe daar aangekondig is dat Joubert die Super14-eindstryd gaan blaas nie, aangesien dié skeidsregter by altwee van die wedstryde wat die Bulls vanjaar verloor het, aan die stuur van sake was.
Die Bulls het veral by die afbreekpunte in hul wedstryd teen die Blues swaar gekry, toe Joubert die Bulls-flank Deon Stegmann vyf keer gestraf het.
Die Pretorianers het ‘n lang gesprek met Joubert na afloop van dié nederlaag gevoer en hoewel dit nooit in die openbaar erken sal word nie, het hy volgens twee bronne, erken dat sy beslissings in een of twee gevalle verkeerd was.
Die Bulls het ook swaargekry in hul kragmeting teen die Reds, maar dit mag bloot toeval wees dat dit Joubert was wat die fluitjie in die mond gehad het vir al die Bulls se verloorwedstryde.
Die Bulls-kaptein Victor Matfield het gesê dat die span geen probleem het met Joubert nie en dat dit van die Bulls afhang om seker te maak hulle gee hom niks om hulle voor te straf nie.
“Ons het ‘n goeie verhouding met hom en het goeie terugvoer ontvang na die wedstryde. Hy was ook die skeidsregter vir ons voorseisoen wedstryd,” het Matfield gesê.
“Die belangrike ding is dat dit ons is wat moet gaan speel en die wedstryd wen. In die vorige wedstryde het ons dit maklik gemaak vir Joubert om ons te straf. Ons moet Saterdag veel meer gedissiplineerd wees," het Matfield bygevoeg.
Frans Ludeke, breier van die Bulls, glo selfs dat Joubert se streng blasery op Deon Stegmann, die Bulls ‘n “guns” gedoen het.
“Craig het ons ‘n guns gedoen omdat hy ons gedwing het om meer akkuraat by die afbreekpunte te wees," het Ludeke gesê.
Afskoptyd vir Saterdag se eindstryd in Soweto is om 17:00.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24