Bulls sweet oor Bakkies
2010-05-17 07:13
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Pretoria - Dit is weer tyd vir asem ophou in die Bulls-kamp.
Bakkies Botha verskyn Maandag voor ’n tugkomitee hier by Loftus Versfeld nadat hy uitgewys is weens beweerde vuil spel in die Super14-wedstryd teen die Stormers die afgelope naweek in Kaapstad.
Botha het volgens die uitwysingsbeampte, Freek Burger, ’n losskrum binnegegaan sonder om sy arms te gebruik en in die proses kontak met Gio Aplon gemaak. Aplon het behandeling ontvang, maar sonder probleme voortgespeel en later ’n drie vir Jaque Fourie aangevoor.
Dit is ’n soortgelyke uitwysing as Botha s’n in verlede jaar se toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus.
Hy is toé geskors, tot groot woede van sy Springbok-spanmaats wat met armbande in die derde toets teen die Leeus gespeel het om sodoende uiting aan hul gevoelens te gee.
Daar is dus óf fout met Botha se tegniek in dié verband óf die ou grote word geteiken deur uitwysingsbeamptes. Laasgenoemde is wat die Bok-kamp gevoel het verlede seisoen gebeur het, maar of Botha dieselfde simpatie gaan kry as hy nie groen dra nie is ’n ander vraag.
Dit is byna dé-jà-vú vir die Bulls, met Botha wat ook verlede jaar in die ooreenstemmende tyd voor ’n tugkomitee moes verskyn. Toe het hy Ryan Kankowski met die oop hand in die gesig gestamp.
Hy is vrygespreek, maar die Bulls het wel vir JP Nel weens ’n skorsing verloor en moes weens ’n besering aan Wynand Olivier met ’n splinternuwe senterpaar teen die Crusaders speel.
Daar is gelukkig nie vanjaar sulke probleme nie weens die besluit van die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, om sy senior spelers ’n ruskans in Kaapstad te gee. Die enigste vraag is wie Olivier se sentermaat gaan wees.
Jaco Pretorius is die aangewese speler, maar het pas herstel van ’n enkelbesering en kan dalk nie so skerp soos gewoonlik wees nie. Jacques-Louis Potgieter het saam met Olivier gespeel toe die Crusaders twee weke gelede hier was, maar dié twee het nie verdedig soos hulle moes nie.
Stephan Dippenaar het die meeste saam met Olivier in die middelveld gespeel, maar kan ook as vleuel oorweeg word in die plek van die geskorste Gerhard van den Heever. Jaco van der Westhuyzen en Deon Helberg het nie een werklik hand opgesteek op Nuweland nie, maar Van der Westhuyzen se ervaring en goeie skopvoet kan die deurslag gee in die Orlando-stadion.
Die Crusaders moes eers ’n dag in Sydney oorbly omdat hulle hul besigheidsklas-sitplekke aan die Waratahs moes afstaan. Die lang vlug hierheen is maar een aspek waarmee hulle te doen sal kry, maar volgens die Crusaders se afrigter, Todd Blackadder, is dit nie ’n probleem nie.
“Die ouens is gretig om nog ’n kans teen die Bulls te kry, veral omdat ons voel dinge het laas bietjie teen ons gedraai.”
-Sport24