Bulls se Barry-verrassing
2010-05-11 09:02
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Pretoria en Kaapstad - Die insluiting van ’n voormalige Kaapse rugbyheld sal een van minstens ’n dosyn veranderinge aan die span wees waarmee die Bulls beplan om Saterdag teen die Stormers op Nuweland uit te draf.
De Wet Barry, ’n voormalige staatmaker-senter van die Stormers én die Springbokke, is uit die bloute in die Bulls-groep ingesluit vir Saterdag se groot Super14-rugbystryd.
Hy het Sondagaand die oproep gekry wat hom weer ’n Super14-speler gaan maak.
“Ek was aangenaam verras om die oproep te kry,” erken Barry. “Ek het Saterdagaand nogal gewonder of die Bulls dalk ouens gaan laat rus, maar nooit gedink ek sou dié kans as gevolg daarvan kry nie.”
Die veteraan-senter, deesdae van die Oostelike Provinsie, was vanjaar deel van die Bulls se oefengroep, hoewel hy nie in die finale span opgeneem is nie.
Oor die reaksie wat Barry op Nuweland te wagte kan wees, het hy gesê: “Ek glo nie daar sal enige negatiwiteit van die Stormers of die skare wees nie. Dit is deesdae ’n professionele era en spelers speel waar hulle geleenthede kry. Niemand anders wou my gehad het nie, so ek is tevrede om vir die Bulls op Nuweland te kan speel.”
Benewens Barry, beplan die Bulls ook om Jaco van der Westhuyzen en Deon Helberg as vleuels los te laat. Dié proefneming is deels genoodsaak deur die skorsing wat Gerhard van den Heever gister opgelê is.
Dié blits is vir twee weke geskors nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ’n boorvat op die Crusaders se vleuel Sean Maitland uitgevoer het.
Ander interessante skuiwe sal die insluiting van Jacques-Louis Potgieter op losskakel en Bandise Maku op haker wees.
Die Stormers, wat dié kragmeting moet wen om ’n tuishalfeindstryd te beklink, beoog op hul beurt om hul span met ’n paar veranderinge te versterk ná die nederlaag teen die Sharks.
Hul afrigter, Allister Coetzee, het gister bevestig dat daar ’n goeie kans is dat die veelsydige agterspeler Joe Pietersen in die beginspan sal wees.
Bryan Habana is ook weer reg om sy plek op die vleuel-posisie te neem, terwyl die voorryman Wicus Blaauw weer oefen nadat hy lank beseer was.
Coetzee kan met Pietersen in gedagte besluit om vir Sireli Naqelevuki as vleuel te pos.
Hy kan dan vir Pietersen op heelagter laat speel en vir Gio Aplon na die regtervleuel skuif.
Habana behoort vir Tim Whitehead as linkervleuel te vervang.
“Hy het oor die naweek met ’n doodvat gekeer dat Rory Kockott gaan druk. Joe ontbreek beslis nie vaart of voorgevoel nie,” het Coetzee oor Pietersen se moontlike terugkeer gesê.
Wat die Bulls se spankeuses betref, is die Stormers min gepla. Die Kapenaars het net een doel voor oë.
“Ons móét wen om die halfeindronde te haal en dis die belangrikste ding ongag wie hierheen kom. Ek weet nie hoe hulle vir dié wedstryd voorberei nie, maar ons berei voor vir die grootste wedstryd van ons seisoen,” sê die Stormers-afrigter.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24