Bulls ‘sal titel koester oor Soweto’
2010-05-31 08:00
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Pretoria - Die Bulls het Saterdag se eindstryd reeds op Nuweland gewen toe sy “B-span” drie weke gelede daar slae gekry het.
Só sê dié rugbyspan se verdedigingsafrigter, John McFarland, nadat die Bulls die Stormers met 25-17 geklop het om hul tweede agtereenvolgende Super14-titel te wen.
“Ons het baie uit daardie wedstryd geleer en dit vandag (Saterdag) toegepas. Ons kon daardie dag sien hoe hulle teen ons sou speel.
“Al was dit ons sogenaamde B-span het hulle nogtans ons struktuur, wat nie verander het nie, op ’n sekere manier aangevat.
Ons kon dus uitwerk waar hulle dink ons swakplekke is en daarop voorberei.”
McFarland is reg.
Die Stormers se baldraers het nooit werklik indruk gemaak nie en die Bulls se verdediging was rotsvas.
Die onderskepdrie van Bryan Habana (’n Stormers-vleuel) was teen die verloop van die spel.
En die laaste drie deur Pieter Louw het gekom nadat die Bulls begin slaplê het omdat die wedstryd reeds gewen was.
Die Bulls-kaptein, Victor Matfield, het gesê sy span het dalk al klaar begin feesvier toe die Stormers se laaste drie gedruk is.
Die Bulls was toe reeds met 25-10 voor, met net drie minute speeltyd oor.
“Ons het besef daar is nie genoeg tyd vir hulle oor om twee keer te gaan druk nie en het dalk al ’n bietjie begin slaplê.
Die konsentrasie was toe nie meer so goed soos dit kon wees nie.”
Matfield meen ook Frans Ludeke (hul afrigter) se besluit om 14 spelers vir daardie wedstryd te laat rus, is met dié sege geregverdig.
“Beslis. Almal het baat gevind by daardie ruskans en die uitslag het gewys dit was die regte besluit.”
Een van die Bulls se groot sterre in die oorwinning, Gary Botha, het gesê dit voel ongelooflik om weer saam met die span dié titel te wen.
Botha was in die 2007-span wat die eerste Super14-titel gewen het en was daarna twee seisoene oorsee.
“Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van ’n groep spelers wat nie bang was om te droom van ’n agtereenvolgende Super14-titel nie. Dit is ’n groot verligting dat alles wat ons beplan het vir ons reg uitgewerk het.”
Die Bulls-flank Dewald Potgieter is ook verlig dat die droom van agtereenvolgende titels verwesenlik is.
“Dit was so belangrik dat ons dit reggekry het, want dit was ’n groot doelwit wat ons vir ons gestel het. Ons het besef hoe naby ons was en daarom het ons hierdie een met die regte gesindheid begin. Hoe lekker klink dit nie: ‘agtereenvolgende wenners’.”
Fourie du Preez het gesê hy is tevrede dat hulle dié keer die titel kon verdedig.
“Ons het in 2008 nie ’n goeie ding daarvan gemaak nie. Die uitdaging was dus om dit in 2010 reg te stel. Ons het dit nou vermag en dit is ’n baie bevredigende gevoel.”
Volgens Du Preez is dié titel ook een wat gekoester sal word omdat hulle dit in Soweto moes kom verdedig.
“Dit was ’n fantastiese ervaring om hier te kom speel. Loftus bly ons tuiste, maar om hier te kon wees, was ’n voorreg en dit het van die veld af ook baie vir almal beteken.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Nuus24