'Bulls moet Crusaders sónder bal troef'
2011-04-07 08:43
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria - Die belangrikste vaardigheid wat sy spelers Saterdag teen die Crusaders moet uitstal om hul wedstryd teen die Suid-Eilanders in Timaru te wen, sal sónder die bal gedoen moet word.
Só sê die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, voor dié naweek se watertand-stryd tussen die twee beste Super Rugby-spanne die laaste paar seisoene.
Volgens Ludeke sal die deurslag vir die Bulls lê in sy spelers se werketiek ván die bal af en nie noodwendig wanneer hulle die bal in besit het nie.
“Dit sal afhang van hoe hard die ouens gaan werk as hulle nié die bal het nie. Hoe vinnig staan jy op ná ’n duikslag, hoe vinnig kom jy weer in posisie en met watter gesindheid daag jy by die afbreekpunte op,” het die breier verduidelik.
Ludeke het duidelik nie bangmaakpraatjies waarmee hy sy span wil pantser teen die aanslag van die tuisspan nie, eerder ’n praktiese en nugter uitkyk op wat sy span in vorige jare seges oor die Crusaders besorg het.
“Ons sal die basiese dinge moet reg doen. As ons vaste fasette goed is en ons kry kwaliteit-balbesit daar, sal ons hulle onder druk kan plaas. Dieselfde geld ons ondersteunende spel by die afbreekpunte waar die regte getalle sal verseker dat ons nie omgekeerde besit afstaan nie.”
Ludeke glo die span wat die spel rondom die voordeellyn oorheers, sal in Timaru wen.
“Hul middelveld is baie sterk, veral weens hul vermoë om die bal in kontak verder te versprei en sodoende die spel lewendig te hou. Almal in Nieu-Seeland praat daaroor en dit is ’n goeie uitdaging vir ons om dit te probeer neutraliseer.
Hulle hou ook van gebroke spel, so ons sal deurentyd ‘aangeskakel’ moet bly om te keer dat hulle ons met teenaanvalle verras en onder druk plaas.”
Die beste manier om wel die Crusaders te verhinder om te speel, bly om hulle voorlangs onder druk te plaas, sê Ludeke.
“Ons sal die tempo moet bepaal en hulle dwing om gereeld te skrum en in lynstane mee te ding. Die besluitneming van ons skakelpaar sal weer deurslaggewend wees en in daardie verband is ons bitter gelukkig om twee van die beste rugbybreine in die spel te hê.”
Die Bulls het heelwat aandag aan verdediging bestee en nadat ’n videosessie van die Crusaders op die aanval bestudeer is, is daar weer op die oefenveld geslyp, met die verdedigingsafrigter, John McFarland, wat die span onder hande geneem het.
“Ek kan beslis nie kla oor die toewyding en intensiteit waarmee die span oefen nie. Jy kry gewoonlik in die tweede week ’n effense insinking as die vlugflouheid inskop, maar ek moet die mediese span loof vir hoe hulle dié een bestuur het, want die ouens lyk skerp en lus vir die ding.”
Die Bulls het nie Donderdag geoefen nie en sou die dag met aktiwiteite soos gholf en snelbootritte verwyl. Ludeke het ’n aanbod om te gaan sweefseil (paraglide) van die spanbestuurder, Wynie Strydom, van die hand gewys.
“Dis bietjie te veel adrenalien vir my,” het hy gelag. “Ek sal die tyd af gebruik om in winkeltjies te gaan rondsnuffel.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24