Bulls moes nie spelers laat rus, sê Deans
2010-05-20 09:06
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pieter Jordaan
Johannesburg - “Die Bulls het ’n fout gemaak om hul voorste spelers (die afgelope) Saterdag te laat rus.”
Dit is een van die redes waarom die Wallabies-afrigter, Robbie Deans, glo die Crusaders, die span wat met hom as breier vyf Superrugby-titels verower het, Saterdag in die Orlando-stadion in Soweto hul halfeindstryd teen die Pretorianers gaan wen.
Deans glo die huidige Crusaders-afrigter, Todd Blackadder, se spelers sal ook voordeel trek uit die feit dat die stryd van Loftus na die onbekende Orlando-stadion geskuif het.
Sy mening oor die Bulls se besluit om hul spelers teen die Stormers te laat rus, is volgens hom ook nie ongegrond nie.
Deans se Crusaders het agt jaar gelede ’n verswakte span van die Waratahs met 96-19 in die laaste ligawedstryd geklop, waarna die Waratahs ’n week later hul halfeindstryd teen die Brumbies ook ver verloor het.
“Ek dink dit was ’n fout om van die perd af te spring,” het Deans oor die Bulls aan rugby365.com gesê.“Maar die besluit sal beoordeel word op grond van hoe ver hulle (die Bulls) nou vorder.”
Tog sal die Crusaders ’n berg moet uitklim as hulle die kampioenspan Saterdag wil klop. Geen span kon sedert 2000 ’n halfeindstryd of eindstryd in Super-rugby buite sy tuisland wen nie.Dus moet die Crusaders in Soweto en die Waratahs in Kaapstad, waar hulle die Stormers pak, Saterdag iets besonders regkry.
Boonop hou die Crusaders nog duim vas dat hul ster-losskakel, Dan Carter, vandag voluit aan die spanoefening in Fourways sal kan deelneem. Blackadder het aan die Crusaders se webtuiste gesê dat sy span juis moed geskep het uit hul amperse oorwinning op Loftus.
“Ons spelers het baie selfvertroue nadat ons die Bulls twee weke gelede amper in Pretoria geklop het. Daar was ’n ratverwisseling in ons spel en jy kon dit sien in die sege oor die Brumbies,” het Blackadder gesê.
Een van die Bulls se staatmakers vanjaar, die stut Werner Kruger, verwag ook kwaai teenstand van die Kiwi’s.
“Hulle het ’n goeie pak en ’n goeie voorry, maar ons sal reg wees. Ons het goed gerus en is reg om dié een saam deur te trek,” het hy aan J.J Harmse gesê.
’n Deel van die Bulls se skrumherlewing word aan die terugkeer van Gary Botha as haker toegeskryf. Vir Botha, wat in 2007 laas in ’n halfeindstryd van dié reeks gespeel het, is daar baie redes waarom hy glo die Bulls sal weer bo uitkom.
“In die twee jaar wat ek weg was, het die span nog meer gegroei. Die ouens sal byvoorbeeld nie meer toelaat dat eksterne faktore hulle te veel pla nie. Hulle gebruik iets soos die Bakkies-skorsing nou as positiewe energie.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24