Bulls gee iets prys deur in Orlando te speel
2010-05-21 10:04
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J Harmse
Pretoria – Statistieke bewys dat spanne wat in hul eerste seisoen in nuwe stadions speel tot 25% swakker presteer as wat hulle normaalweg sou doen op hul gereelde tuisvelde.
In daaropvolgende jare verbeter die wenpersentasie gewoonlik weer tot wat dit was voordat die skuif gemaak is.
Hoewel môre se Super14-halfeindstryd in die Orlando-stadion tussen die Bulls en die Crusaders dus nie heeltemal in dieselfde kategorie val nie, sê die sportwetenskaplike Ross Tucker dat die Bulls wel iets prysgee omdat hulle nie soos gebruiklik op Loftus Versfeld speel nie.
Tucker het in ’n reeks praatjies oor die Super14-reeks, geborg deur Powerade, gesê twee faktore speel ’n rol as daar weg van die huis of in ’n nuwe tuiste gespeel word.
Daar is die moontlikheid dat spanne onderpresteer omdat hul roetine en fokus nie dieselfde as voorheen is nie.
Teenstanders het ook nie meer ’n sielkundige hekkie wat voor hulle staan ten opsigte van die tuisspan se “vesting” nie.
Tucker glo die Bulls is goed genoeg om dié probleem te oorbrug en wys daarop dat oefensessies in die Orlando-stadion sou help om die span meer gefokus te maak.
“Al word die Orlando-stadion so bekend moontlik gemaak met vlae en geluide (musiek), kan dit totaal irrelevant wees.
“Vra gerus die Crusaders op watter een van die twee velde húlle wil speel.”
Tucker het in sy studies bevind dat spanne in die algemeen beter vaar as hulle tuis speel, hoewel hy bevind het dat die Stormers die Suid-Afrikaanse span is wat die swakste tuis vaar in vergelyking met hul vertonings weg van die huis.
Dié span se vertoning verswak net met vyf punte as hy weg van die huis af speel, teenoor byvoorbeeld die Cheetahs en die Lions wat 13 en 14 punte swakker is weg van die huis af.
Dít kan die Stormers nadelig beïnvloed in hul halfeindstryd teen die Waratahs.
Hulle het egter die roetine van op Nuweland speel en al die bekende dinge wat daarmee gepaard gaan aan hul kant.
Tucker wys ook daarop dat skeidsregters, of hulle daarvan bewus is of nie, ook deur tuisskares beïnvloed word.
Hoe groter die tuisskare, hoe groter die kans dat die besoekende span meer gestraf sal word.
Verskeie bevindinge in ander sportsoorte, soos yshokkie en basketbal, staaf dit.
Sedert 1999 het geen span nog ’n halfeind- of eindstryd buite sy eie land gewen nie.
Dit is ’n faktor wat beslis weer “in spel” sal wees môre, glo hy.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24