Bulls bring tweede span Nuweland toe
2010-05-10 07:01
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Duisende Stormers-ondersteuners wat kaartjies gekoop het vir ’n bulstryd op Nuweland Saterdag teen die besoekende Super14-kampioene, gaan vanoggend sommer baie teleurgesteld wees: Die Bulls stuur nie sy beste span nie.
Hoewel ondersteuners wat lank reeds kaartjies vir een van die belangrikste wedstryde in die plaaslike been van die Super14 gekoop het nie te gelukkig gaan wees hieroor nie, doen die Bulls nietemin hulself én die Stormers ’n hengse guns om sy sterre soos die kaptein, Victor Matfield, Fourie du Preez en Morné Steyn te laat rus.
Die Bulls en Stormers, die land se voorste twee spanne in vanjaar se Super14-reeks, pak mekaar in ’n wedstryd wat skielik ’n oorlewingstryd vir die tuisspan geword het, maar vir die besoekers bloot van akademiese belang is.
Die Bulls het reeds Vrydagaand vir die halfeindstryd gekwalifiseer en nadat die Stormers hul aanhangers teleurgestel het in Durban teen die Sharks, is die kampioene in ’n onaanvegbare posisie bo-aan die puntelys.
Die Bulls eindig, soos in 2009, eerste op die puntelys, ongeag die uitslae van die naweek se laaste ronde wedstryde.
Die Stormers móét die stryd teen die Bulls wen om ’n moontlike tuisveldvoordeel in die ander halfeindstryd te kry. Uitslae elders kan die Stormers se plek onder die boonste vier verseker vóór die Nuweland-stryd, maar die span sal die Bulls móét klop as hulle ’n halfeindstryd wil aanbied.
Die besluit van die Bulls om nie met hul sterkste span te speel nie gaan die wenkbroue laat lig, maar is geen waarborg dat die Stormers dié een sal wen nie.
Daar is genoeg diepte in die Bulls-groep om ook met dié span die Stormers te klop en hulle van ’n winsgewende halfeindstryd te ontneem.
Frans Ludeke, die Bulls-afrigter, wou nie enige lig werp oor dié moontlikheid nie, maar Die Burger kan vandag onthul dat die besluit om met ’n “B-span” Kaap toe te reis reeds etlike weke gelede bespreek is. Daar is toe besluit dat, sou die situasie hom daartoe leen, verskeie spelers ’n waardevolle ruskans gegee sal word met die oog op die halfeindstryd die week daarna. Die besluit behoort vandag by die spanbestuursvergadering bevestig te word.
“Ons moet ons spelers bestuur, want die kompetisie is lank en straf en waar jy ’n kans kry om ouens te laat rus, moet jy dit benut,” het Ludeke vroeër gesê.
Dié besluit kan die Nuweland-stryd, waarvoor kaartjies al weke gelede uitverkoop is, se glans in ’n mate wegvat, want verskeie tweestryde kan in die slag bly.
So sal die liplekker-stryd tussen Andries Bekker en Victor Matfield waarskynlik nie plaasvind nie, Bryan Habana en Gerhard van den Heever sal nie kragte meet nie en Pierre Spies en Duanne Vermeulen gaan mekaar nié in die oë kyk nie.
Die Bulls het herhaaldelik vanjaar gesê hulle hardloop hul eie wedloop en kan nie blameer word vir hul eie sukses nie. Hulle moet eenvoudig die luukse benut om sleutelspelers ’n ruskans te gee. Die halfeindstryd is immers hul belangrikste wedstryd vanjaar.
Daarenteen het die Stormers net hulself te blameer vir die posisie waarin hulle verkeer. ’n Sege is ononderhandelbaar, en ’n nederlaag teen ’n verswakte Bulls-groep ondenkbaar.
- Die Burger
- Die Burger