Bulls-bielie vier 100ste wedstryd
2010-05-05 07:33
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Pretoria - Victor Matfield glo hy het die beste van twee wêrelde om saam met óf Danie Rossouw óf Bakkies Botha in ’n span te speel.
Daarom pla dit hom nie wie van dié twee Vrydag langs hom in die oond sak wanneer die Bulls teen die Crusaders op Loftus Versfeld uitdraf nie.
In dié geval is dit Rossouw, wat sy 100ste wedstryd in Super-rugby sal speel.
“Dit maak nie eintlik saak wie van die twee is daar nie, hulle lewer albei ’n ontsaglike bydrae. Dit sal wel lekker wees om Dana (Rossouw) Vrydag sy 100ste te sien speel. Hy sou seker ook al naby 100 toetse gespeel het as dit nie vir Bakkies se teenwoordigheid was nie.”
Matfield het só reageer nadat die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, gister sy span aangekondig het vir die Super14-wedstryd wat die Bulls se tuishalfeindstryd kan verseker.
Rossouw vervang Botha, wat van die bank af sal kom om die kole verder te stook wat Rossouw sal aansteek.
Botha se terugkeer tot die span ná sy enkelbesering word goed beplan en hy sal sekerlik sy deel in die tweede helfte bydra.
Die ongelukkige speler wat met Botha se terugkeer speelkans ontsê word, Flip van der Merwe, het aan Sport24 gesê Rossouw is ’n móét vir enige span.
“Hy is seker die ‘ultimate’ Blou Bul. Hy is groot, vinnig, sterk, vreesloos en vaardig. Ja-nee, een van daai ouens wat jy altyd in jou span wil hê. Jy wil eerder saam met hom as teen hom speel.”
In ’n ander skuif van die span wat die Sharks gelooi het, skuif Jaco van der Westhuyzen op die plaasvervangersbank in.
Van der Westhuyzen het herstel van ’n kuitbesering en vervang Heini Adams.
Ludeke het gesê dié besluit is ’n taktiese een.
“Jaco se insluiting gee ons meer verskeidenheid op die bank. Ons het Francois Hougaard wat as skrumskakel kan diens doen en voel Jaco se ondervinding kan ons iets ekstra gee.
“Jaco is iemand wat ’n groot impak kan maak.”
Ludeke het sy tevredenheid met Jacques-Louis Potgieter se vertoning teen die Sharks uitgespreek en hy is as buitesenter behou.
“Jacques-Louis is ’n voetballer en hy kan in enige posisie aanpas. Dit was een van die redes waarom ons hom teruggekry het by die Bulle. Dit is lekker om soveel diepte te hê. Dit gee jou ruimte om te kies soos dit jou pas.”
Ludeke meen Potgieter het sy kanse teen die Sharks benut.
Matfield het gesê ander uitslae in die reeks gaan nie sy span se aanslag beïnvloed nie.
“Ons speel steeds om die wedstryd te wen. As ander uitslae beteken ons is reeds in die halfeind as die wedstryd afskop, sal dit nie ons manier van dink of speel verander nie. Ons het voorberei om ’n sekere taak te verrig en sal dit teen die Crusaders probeer uitvoer.”
Die Bulls se span is: Zane Kirchner, Gerhard van den Heever, Jacques-Louis Potgieter, Wynand Olivier, Francois Hougaard, Morné Steyn, Fourie du Preez, Pierre Spies, Dewald Potgieter, Deon Stegmann, Victor Matfield (k), Danie Rossouw, Werner Kruger, Gary Botha, Gurthrö Steenkamp.
PLAASVERVANGERS: Bandise Maku, Bees Roux, Bakkies Botha, Derick Kuün, Jaco van der Westhuyzen, Stephan Dippenaar, Pedrie Wannenburg.