Brumbies bitter oor blaser se vertoning
2010-04-28 11:21
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Sydney - Die Sanzar-hoof, Lyndon Bray, het gerugte ontken dat die besluit om fluitjieblaser Steve Walsh vir Saterdag se kragmeting tussen die Brumbies en die Reds in Canberra te vervang, iets te doen het met losskakel Matt Giteau se omstrede uitlatings.
Bray het verder aangedring dat Giteau voor Sanzar se tugkomitee verskyn en aanspreeklik gehou word vir sy vurige uitlatings oor Walsh.
Dié Sanzar-hoof het bevestig dat Walsh vir Saterdag se wedstryd deur Nieu-Seeland se Chris Pollock vervang sal word.
"Ons voel dit is beter as Steve nie in 'n wedstryd blaas waar daar reeds, voor die die spelers nog op die veld gedraf het, ongelukkigheid heers nie," het Bray gesê.
Volgens die Brumbies het Walsh 'n fout begaan toe hy nie die televisie-skeidsregter geraadpleeg het om 'n drie van Adam-Ashley Cooper toe te ken nie. Walsh het beslis dat Cooper die bal ná 'n dubbele beweging agter die lyn geplant het.
Walsh het ook tydens die wedstryd deurgaans met die Brumbies-kaptein Stephen Hoiles vasgesit.
Verskeie spelers het na afloop van die wedstryd hul misnoë te kenne gegee met veral Giteau wat harde woorde laat val het.
"Enige persoon wat rugby ken, weet dat daardie 'n drie was," het Giteau gesê.
Brumbies-afrigter Andy Friend het ‘n bietjie meer selfbeheersing aan die dag gelê, maar gesê hy hoop Walsh word vervang vir die Brumbies se stryd teen die Reds.
Bray het geweier om Walsh se vertoning te kritiseer tog het hy toegegee dat dié skeidsregter ‘n gemiddelde wedstryd beleef het.
- Sport24