Brits beste speler wat hy al afgerig het – Brendan
2011-06-30 10:06
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – In Londen vertel Saracens se ondersteuners Chuck Norris-grappe oor Schalk Brits, maar dié klubspan se afrigtingskonsultant, Brendan Venter, is doodernstig wanneer hy sê dat die Stormers Saterdag die beste speler wat hy ooit afgerig het, op hul plaasvervangersbank gaan hê.
Brits is Woensdag as reserwe-losvoorspeler vir die Super Rugby-halfeindstryd teen die Crusaders gekies en die verwagting is dat hy omtrent ’n halfuur in die Kapenaars se nr.19-trui gaan speel.
Tog is dit op ’n bydrae van ongeveer 70 wedstryde vir Saracens waarop Venter sy mening baseer dat Brits straks nog ’n belangrike rol vorentoe vir die Springbokke kan speel as hulle – soos die Stormers – vernuwende denke oor sy rol aan die dag lê.
“Schalk is die beste speler wat ek al afgerig het,” het Venter gesê.
“Ek onthou toe Chester Williams nog die Cats afgerig het, hoe ek een keer ’n verdedigingsessie in Johannesburg gaan hou en die eerste keer met hom gewerk het.
“Toe ek daardie aand by die huis kom, het ek vir my vrou vertel dat ek so pas een van die mees talentvolle individue tot nog toe in my loopbaan raakgesien het. Hy kon alles doen – én hy’s ’n haker!”
Dié week is hy egter ’n losvoorspeler vir die Stormers en daar is diegene wat meen hy’s eintlik ’n buitesenter.
In Suid-Afrika was dit die rede waarom daar uit sekere oorde vir Brits neus opgetrek is, maar Venter meen dis juis wat hom ’n uitsonderlike troef maak.
“Ek besef John Smit is reeds as die kaptein vir die Wêreldbeker-toernooi aangewys en Bismarck du Plessis is waarskynlik die beste toetshaker ter wêreld. Jy hoef Schalk egter nie noodwendig as ’n haker te oorweeg nie,” het Venter gesê.
“As jy kyk na die voorlopige groep vir die Wêreldbeker-toernooi, is dit duidelik dat daar veilige keuses gemaak is.
“Ek dink egter ons kort ’n paar troefkaarte. Patrick Lambie kan op heelagter een wees en Schalk kan daardie X-faktor van die plaasvervangersbank af bied wat niemand kan afrig nie.”
Toe Brits se naam onlangs in ’n gesprek met die Bok-afrigter, Peter de Villiers, ter sprake gekom het, het hy gevra in watter een van Smit, Du Plessis, Chiliboy Ralepelle, Bandise Maku of Adriaan Strauss se plek hy gekies moet word.
Venter glo egter nie Brits moet noodwendig met ander hakers meeding nie.
“Wat Schalk vir jou bied, is heeltemal uniek. Geen ander haker in Suid-Afrika – of die wêreld – beskik oor sy vaardighede nie.
“Met uiters talentvolle spelers tref jy dikwels die probleem aan dat hulle nie hard genoeg werk nie of vir kontak terugdeins.
Schalk bied vir jou werkverrigting as deel van die pakket. As jy hom op jou bank het, kan hy vir jou meer as een posisie dek. Jy kan dus ’n mededingende voordeel kry, want jy kan dan maklik twee stutte op die bank kies.”
Wat dan van die negatiewe opvattings dat hy nie akkuraat genoeg in die vaste fasette is nie?
“Daardie persepsie is by Saracens verkeerd bewys,” het Venter gesê.
“Schalk het spelers met groot reputasies in ons lewendige skrumsessies by Saracens vernietig en ons skrum het nooit swaar geleef nie.
“Ons akkuraatheid in die lynstane is ook die beste in die Engelse Premierliga.
“Daardie siening oor die vaste fasette is nonsens. Onthou ook dat hakers met ouderdom wasdom bereik. Schalk speel nie meer soos toe hy 23 was en van oral wou aanval nie. Hy is nou 30.
“Schalk het in twee jaar ’n legende by Saracens geword. Hulle vertel Chuck Norris-grappe oor hom. Die vraag is wat hy nié kan doen nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24