Bring maar Crusaders, sê Fleck
2011-06-24 10:08
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Die Stormers het geen voorkeur vir ’n teenstander in volgende Saterdag se halfeindstryd in die Super Rugby-reeks nie, maar sal beslis nie omgee as dit die Crusaders is nie.
Nieu-Seeland se toonaangewende span het die Stormers vroeër vanjaar met 20-14 op Nuweland geklop en volgens die Kapenaars se agterlyn-slyper, Robbie Fleck, sal die span “graag nóg ’n kans” teen die Kiwi’s wil hê.
“Daar is geen twyfel nie dat ons teleurgesteld en gefrustreerd met ons laaste vertoning teen die Crusaders was. Ons het vier wedstryde in die ligafase verloor, maar gevoel dat die Reds die enigste span was wat ons werklik uitoorlê het,” het Fleck gesê.
“Ons het ons kanse teen die Crusaders verspeel. Daar was die rolmaalbewegings aan die einde, maar ons kon nie munt slaan nie.”
Wat Fleck nie mag sê nie, is dat daardie wedstryd ook vir ’n power vertoning deur die Nieu-Seelandse blaser Chris Pollock onthou sal word.
Skeidsregterbase het ná die wedstryd erken dat ’n drie aan die Stormers toegeken moes gewees het nadat Dewaldt Duvenage ’n vinnige ingooi deur die Crusaders se kaptein, Kieran Read, onderskep en gaan druk het. Pollock het nie die drie toegelaat nie.
Read se een voet was in spel met die ingooi, maar die voordeelreël moes gegeld het, al het hy die ingooi verbrou.
Pollock se onbereidwilligheid om daadwerklik teen die Crusaders op te tree toe hulle herhaaldelik op onwettige wyse die Stormers se lynstaandrywe gestop het, het ’n verdere invloed op die uitslag gehad.
Gelukkig gaan die Stormers en Pollock se paaie nie vanjaar weer kruis nie. Craig Joubert is as blaser vir die halfeindstryd op Nuweland aangewys, terwyl Bryce Lawrence die blaser in die eindstryd sal wees.
Die Stormers het in verlede jaar se eindstryd in Soweto ’n pakkie sout met Joubert geëet, maar die lug is sedertdien gesuiwer en Fleck het hom gister as ’n “uitstekende skeidsregter” bestempel.
“Ons het beslis sedert daardie eindstryd met Craig gesels oor hoe ons wil speel en hoop ons deel dieselfde mening oor hoe die afbreekpunt beoordeel moet word. Die span het sedertdien ’n ver pad gestap.”
Fleck beskou die Blues en die Crusaders die gunstelinge om hierdie naweek hul kwarteindstryde te wen. Die Blues speel vanoggend teen die Waratahs in Auckland en die Crusaders en Sharks kruis môre in Nelson swaarde.
“My geld sou op die Waratahs gewees het voordat hulle al daardie beserings opgedoen het,” het Fleck gesê.
Die Waratahs is reeds sonder top-spelers soos die senter Berrick Barnes, die stut Al Baxter en die haker Tatafu Polota-Nau.
“Ek dink dit gaan ’n gelykop-stryd wees, maar die Blues het tuisveldvoordeel en is ook weer besig om op dreef te kom.”
Wat die Sharks betref, is Fleck van die mening dat die reis na Nieu-Seeland tesame met die gehalte van die teenstander dit ’n “moeilike een” vir die Suid-Afrikaanse span maak. “Dis dalk net te veel gevra,” het hy gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24