Bok-ysterman sluit by Cheetahs aan
2010-04-05 10:32
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Hendrik Cronjé
Bloemfontein - Die Cheetahs se Super14-balansstaat wil eenvoudig nie klop nie.
Elke keer as dié rugbyspan ’n krediet kry, tref ’n harde slag hom.
Ná Saterdag se nederlaag van 17-40 teen die Waratahs in Sydney het die Cheetahs-kamp die goeie nuus verneem dat die Springbok-flank Juan Smith gisteraand uit Suid-Afrika vertrek het om hom by die groep aan te sluit.
Terselfdertyd het nog ’n Bok-losvoorspeler, Ashley Johnson, uit Sydney na Johannesburg teruggekeer. Johnson het sy ribbes beseer en sy naam word nou by dié van sterre soos Heinrich Brüssow, Frans Viljoen (albei losvoorspelers) en Lionel Mapoe (vleuel) op die krukkelys gevoeg.
’n Slot van die Vrystaat se Vodacombeker-span, Izak van der Westhuizen, vervang Johnson.
Smith het bevestig hy het, ondanks die feit dat sy pa in ’n kritieke toestand weens slenkdalkoors in die hospitaal lê, besluit om hom voor Saterdag se wedstryd teen die Brumbies by sy spanmaats in Australië aan te sluit.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, sê Smith se beskikbaarheid is ’n groot hupstoot ná die nederlaag teen die Waratahs. Hy kan met sy fisieke teenwoordigheid die Cheetahs broodnodige byt op die aanval én verdediging gee.
Teen die Waratahs was daar nie juis ’n voorspeler wat momentum met die bal onder die arm kon verskaf nie.
Dit sal interessant wees om te sien wie saam met Smith die lostrio teen die Brumbies gaan vorm nadat Hendro Scholtz, Barend Pieterse en Johnson die losmanne teen die Waratahs was.
Kabamba Floors het goed vertoon as Johnson se plaasvervanger, terwyl Davon Raubenheimer ook sy kans aangegryp het.
Scholtz, Smith en Floors kan die lostrio teen die Brumbies vorm.
Afgesien van die insluiting van Smith, wat weer die kapteinskap by die Bok-haker Adriaan Strauss kan oorneem, beplan Drotské nog heelwat veranderinge aan sy beginspan.
Hy het nie hieroor uitgewei nie, maar was duidelik beïndruk met die spel van sekere plaasvervangers.
“Die plaasvervangers het beslis ’n verskil gemaak toe hulle speelkans gekry het en die span sal beslis verander,” sê Drotské.
Twee plaasvervangers wat nuwe lewe teen die Waratahs geblaas het en moeilik uit die span gelaat kan word, is Riaan Viljoen en Sarel Pretorius.
Viljoen het, veral toe hy by Naas Olivier as losskakel oorgeneem het, geleenthede geskep, terwyl Pretorius skerp gebreek en die voorspelers goed rondom die losgemale aangewend het.
– Sport24