Blou Maandag vir Bulls
2011-03-21 08:03
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria - Hier gaan ons al weer!
Bakkies Botha word wéér verhoor vir beweerde vuilspel, die Stormers is wéér onoorwonne vroeg in die reeks en die Bulls is wéér aan die belowe om die skandes van ’n vorige naweek “met harde werk” reg te stel.
Botha en Sanzar se uitwysingsbeamptes ken mekaar nou al so goed dat hulle al op voornaamterme moét wees, maar dié vriendskap was nie genoeg om te keer dat een van die land se mees omstrede spelers vroeg vandeesweek hom weer moet probeer verontskuldig nie.
Hy verskyn waarskynlik môre voor ’n tugkomitee.
Dié keer is Botha uitgewys weens ’n duikslag op die Stormers se Dewaldt Duvenage, sy derde uitwysing vir ’n oortreding teen ’n speler veel kleiner as hy.
Sy vorige twee uitwysings weens ongeoorloofde spel teen Gio Aplon (Stormers op Nuweland) en Jimmy Cowan (Springbokke teen Nieu-Seeland op Eden Park) het gedreig om ’n demper op Botha se internasionale loopbaan te plaas.
Hoewel die Duvenage-uitwysing maar bra flou lyk, is dit steeds opvallend dat dit Botha se soveelste uitwysing teen ’n veel kleiner speler is.
Geen ongeoorloofde spel – en die gevaar van ’n uitwysing – kan geregverdig word nie, maar die suur sou soveel soeter gewees het as Botha se beweerde onaanvaarbare spel teen ’n lid van die Stormers se pak voorspelers was, want dít was die ouens wat die Bulls Saterdag geboelie het.
Ongeoorloofde spel bly ongeoorloofde spel, maar Bulls-ondersteuners sou meer waarde vir hul swaarverdiende rande gekry het as Botha eerder probeer het om direkte teenstanders soos Andries Bekker of Rynhard Elstadt te oorheers en af te knou, eerder as die skraal Duvenage.
Dit het ongelukkig nie gebeur nie, maar Botha was nie alleen in sy oorgawe aan die Stormers-pak nie.
Die Bulls-agttal het soos een man op een knie voor die aanslag gekniel.
Die leier van die trop, Victor Matfield, het ná die skandes teen die Stormers sy bes probeer om eerlik oor sy span te probleme te wees, maar terselfdertyd juis die pleistertjie van die gapende wond afgetrek.
“Ons is ’n span wat juis die detail so goed doen. Ons uitvoering was altyd ons sterkpunt, maar ons is nie meer akkuraat nie.
Ek weet ons kan dit regmaak en daarom is Saterdag se wedstryd teen die Lions so belangrik,” het Matfield erken.
“Ons moet dinge eenvoudig regstel,” het hy met geklemde kake belowe.
Dít is ook ná die Highlanders-skandes gesê en hoewel Matfield Sport24 verseker het daar is geen probleme agter die skerms nie, weerspreek die spelers se aksies hulle kaptein se uitsprake.
Te veel Bulls-spelers blyk betrokke te wees by welsynswerk, sosiale netwerke, sake-ontbyte, DVD- en boekverspreiding, die skryf van rubrieke, TV-advertensies, gholfdae en kontrakonderhandelinge om hul fokus op die taak bínne die vier lyne te hou.
Frans Ludeke het agterna die Stormers geloof vir hul toewyding en gesindheid en het hulle as waardige wenners erken, maar die breier sal ook hand in eie boesem moet steek.
Die Bulls gaan oor twee weke toer en sal blitsvinnig hul huppel moet terug kry.
Botha se tugsaak, beserings aan Gurthrö Steenkamp en Zane Kirchner en te veel middelmatigheid deur senior spelers bedreig die Bulls se status.
- Sport24
- Volg Nuus24Sport op Twitter.