‘Blasers net so fiks soos skrumskakels’
2011-05-05 08:40
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein - ’n Professionele skeidsregter is waarskynlik fikser as ’n skrumskakel in die Super Rugby-reeks en doen net soveel voorbereiding as afrigters en spelers voordat hy sy fluitjie blaas.
Só sê Jaco Peyper, een van Suid-Afrika se belowendste rugbyskeidsregters, wat vinnig opgang maak.
Peyper is onlangs beloon toe hy tot Sanzar se merietepaneel van skeidsregters bevorder is.
Dié oud-leerling van Grey-kollege is ook vroeër deur die Internasionale Rugbyraad (IRR) as een van die skeidsregters vir aanstaande jaar se junior wêreldtoernooi aangewys.
Selfs Brendan Venter het onlangs sy lof vir dié bestendige blaser besing. Venter, ’n voormalige Springbok-senter en gewese afrigter van die Engelse klubspan Saracens, is bekend vir sy uitsprake oor skeidsregters.
Volgens Peyper, ’n gekwalifiseerde prokureur, vereis die spel dat blasers sowat nege tot tien kilometer per wedstryd hardloop. “Die spel het op Super Rugby- en Curriebeker-vlak baie verander en die kontakpunte is veel meer.
“Daar was in Saterdag se wedstryd tussen die Stormers en Sharks, waarin ek geblaas het, meer as 260 duikslae. Dit beteken daar word na aan vier duikslae per minuut uitgevoer.
“Hoe jonger jy is, hoe moeiliker is dit, want jy ken nog nie die kortpaaie nie. As jy nie onder druk is nie, is jou oordeel beter.
“Ek skat ons moet net so fiks, indien nie fikser nie, as ’n skrumskakel op Super Rugby-vlak wees.”
Peyper, wie se oupa Japie Theron ook ’n Curriebeker-skeidsregter en sekretaris van die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) was, sê fluitjieblasers doen ook talle ontledings. “Ons gebruik gevorderde tegnologie, net soos die spelers en afrigters. As ek in ’n wedstryd tussen span X en span Y blaas, kan ek na video’s kyk hoe dié spanne speel en watter tegnieke hulle gebruik.
“’n Ou probeer beslis nie voor die wedstryd beslissings ‘kweek’ nie, maar moet bewus wees van wat die spanne doen.
“Jy moet ook bedag wees op dit wat van jou verwag word, soos om streng by die skrums op te tree.
“Voorts kyk jy ook na vorige wedstryde waarin jy geblaas het om op jou swakpunte te probeer verbeter.”
Peyper, wat as skrumskakel in ’n paar wedstryde vir Grey se eerste span gespeel het, het in 2000, sy tweede jaar aan die Universiteit van die Vrystaat, begin blaas nadat herhaalde kniebeserings hom sy stewels laat ophang het.
Wyle Steve Strydom, ’n voormalige president van die VRU en oud-voorsitter van Suid-Afrika se skeidsregtersvereniging, het Peyper aangemoedig om te blaas nadat hy hom oor skeidsregterbeslissings uitgelaat het.
Volgens Peyper moet ’n skeidsregter goeie oordeel aan die dag lê, objektief onder druk kan bly en rugby verstaan om suksesvol te wees. Hy meen die druk op fluitjieblasers is groot, maar as jy ’n sterk persoonlikheid het, sal jy nie maklik deur spelers geïntimideer word nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24