Blasers: 'Hou by reëls of vat jou pak'
2012-02-01 07:01
In-diepte Verslae
Die Highlanders moes 'n laat terugvegpoging deur die Blues afweer om die Super-rugbykragmeting op Eden Park in Auckland te wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad. – Eerbiedig die reëls by die afbreekpunte of dra die gevolge.
Dís effektief die boodskap uit skeidsregters-geledere aan spanne voor die aanvang van vanjaar se Superrugby-reeks en ander Suid-Afrikaanse kompetisies.
Suid-Afrika se skeidsregterbaas, André Watson, het Dinsdag bevestig dat blasers daarop bedag gemaak is dat onwettige spel by die afbreekpunte hokgeslaan móét word.
Dit volg op terugvoer aan Sanzar deur afrigters.
“Die terugvoer deur afrigters was dat daar beter polisiëring van onkantspel by die afbreekpunte moet wees.
Daar was dikwels gevalle waar die verdedigende span by etlike fases onkant was en daarmee weggekom het,” het Watson gesê.
“Daar is geen reëlverandering nie, maar die onkantreël sal streng toegepas word en die speler wat die duikslag uitvoer, móét wegrol.
’n Speler wat help om die duikslag uit te voer maar op sy voete is, moet ook daglig wys voordat hy toegelaat sal word om die bal te probeer wen.”
“Terselfdertyd is gesê dat streng opgetree moet word as die aanvallende span die bal onwettig beskerm.
Die ouens gaan van hul voete af om die bal te beskerm of is soms handeviervoet en nie op hul voete nie.
“Die behoud van besit behoort tog op jou vaardighede gebaseer te word en nie op onwettige behoud deur byvoorbeeld oor die bal te val nie.”
Watson het benadruk dat geen reël ten opsigte van die afbreekpunte verander het nie.
“Soms klink dit uit praatjies oor sogenaamde klemverskuiwing in die reëls asof die skeidsregters hulself in ’n kamertjie toesluit, die gordyne toetrek en nuwe reëls uitdink.
Niks is verder van die waarheid nie. Die kwessie van die afbreekpunte is deur afrigters aangeroer, en ons as skeidsregters is veronderstel om ’n diens aan die spanne te lewer,” het Watson gesê.
Die Stormers het verlede naweek veral by die afbreekpunte deurgeloop in hul opwarmwedstryd teen die Lions.
Hul afrigter, Allister Coetzee, is bekommerd daaroor dat sy span 20 keer deur Jaco Peyper gestraf is.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ook in ’n nuusverklaring uitgestippel waar die klem in vanjaar se skrums gaan wees.
Dit volg op ’n “oefenkamp” deur Suid-Afrika se voorste skeidsregters saam met top-rugbybreine soos Balie Swart, Rassie Erasmus en Rudolf Straeuli.
Klem word daarop gelê dat voorrye dadelik korrek moet inslaan en dat hul koppe nie aan mekaar moet raak voordat dit gebeur nie.
Die spanne moet ook op presies dieselfde tyd as die skeidsregter se roep inslaan.
Die voorrye moet ook met die inslaan reguit skrum en die loskoppe mag nie poog om teen ’n hoek “om die vaskoppe te loop nie”.
Stutte moet ook korrek bind en mag nie hul hand op die grond druk vir ondersteuning nie.
Die skrum mag ook nie opsetlik geswaai word nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24